Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 22:12-24 Die Boodskap (DB)

12. Los die mes en moenie die seun seermaak nie. Ek weet nou dat jy My liefhet, want jy was bereid om jou lieflingskind, jou enigste seun, vir My te offer.”

13. Net toe Abraham opkyk, hoor hy ’n geritsel tussen die takke. Dit was ’n ram waarvan die horings in die digte takke vasgehaak het. Hy het nader gestap, die ram geslag en dit as ’n brandoffer op die altaar geoffer. So is die ram toe in Isak se plek geslag.

14. Abraham het die plek “Die Here voorsien” genoem. Vandag nog gebruik mense die uitdrukking: “Op die berg van die Here sal Hy altyd voorsien.”

15. Die Here het weer deur sy Engel uit die hemel gepraat en gesê:

16. “Vandag was jy bereid om hierdie lieflingskind van jou te offer; daarom beloof Ek jou

17. dat Ek jou sal seën. Jou kinders sal so baie wees soos die sterre in die hemel en die sand van die see. Jou kinders sal ook nog eendag hulle vyande se sterk stede oorneem.

18. In al die nasies sal mense nog oor jou praat. Dit sal met hulle goed gaan omdat hulle jou ken en deel van jou nageslag is. Al hierdie dinge sal gebeur omdat jy vandag weer gewys het dat jy My liefhet.”

19. Abraham en Isak het na die werkers toe teruggestap en hulle is saam Berseba toe. Abraham het ’n lang ruk in Berseba gebly.

20. ’n Ruk later het Abraham gehoor dat sy broer, Nahor, wat destyds met Milka getroud is, ’n klomp kinders het.

21. Daar was Us, die oudste, en dan was daar nog sy broer Bus, asook Kemuel, die voorvader van die Arameërs,

22. en ook nog Kesed, Gaso, Pildas, Jidlaf en Betuel.

23. Betuel was die pa van Rebekka. Dit was dan die agt seuns wat Milka vir Abraham se broer, Nahor, in die wêreld gebring het.

24. Nahor het ook ’n byvrou gehad. Haar naam was Reüma en sy het ook kinders gehad: Tebag, Gagam, Tagas en Maäka.

Lees volledige hoofstuk Genesis 22