Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 21:4-18 Die Boodskap (DB)

4. Op die agtste dag het Abraham vir Isak besny omdat die Here vir hom so gesê het.

5. Abraham was 100 jaar oud die dag toe sy seun Isak gebore is.

6. Sara het gesê: “God het my diep gelukkig gemaak. Almal wat my verhaal hoor, sal saam met my lag.

7. Wie sou vir Abraham kon sê dat Sara nog ’n seun sou borsvoed? Ek het vir hom ’n seun op sy oudag gegee.”

8. Isak het grootgeword en sy ma het later opgehou om hom te borsvoed. Die dag toe dit gebeur, het Abraham ’n groot fees gehou.

9. Sara het gesien dat Ismael eenmaal vir Isak lag. Ismael was Abraham se kind by die Egiptiese vrou Hagar.

10. Sara het Abraham beveel: “Smyt hierdie Egiptiese vrou en haar kind onmiddellik uit. Haar kind kan verseker nie saam met my kind erf nie.”

11. Abraham was baie ongelukkig, want hy was lief vir Ismael.

12. Maar God het vir hom gesê: “Moenie so ongelukkig oor die seun en sy ma wees nie. Maak soos Sara gesê het, want deur Isak sal Ek jou nageslag bou.

13. Met Hagar en Ismael sal dit ook goed gaan. Uit hom sal daar ’n groot nasie kom, want hy is jou kind.”

14. Die volgende dag is Hagar en Ismael toe daar weg. Vroegoggend het Abraham ’n klompie broodrolletjies gepak en ’n watersak volgemaak. Hy het alles op Hagar se rug gesit, hulle gegroet en weggestuur. Hy het gesien hoe hulle in die verte verdwyn. Hagar het in die Bersebawoestyn rondgedwaal.

15. Hulle water het opgeraak. Sy het die kind onder ’n bos neergesit.

16. Sy het eenkant toe gestap, omtrent so ver as wat ’n mens met ’n pyl kan skiet. Sy wou nie sien hoe haar kind doodgaan nie. Terwyl sy daar eenkant sit, het sy begin huil.

17. God het gehoor toe die kind huil en deur sy Engel uit die hemel gesê: “Wat is fout, Hagar? Moenie bang wees jou kind gaan sterf nie. God het hom gehoor daar waar hy onder die struike lê.

18. Gaan tel hom op en troos hom, want Ek sal hom nog eendag ’n groot nasie maak.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 21