Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 15:11-21 Die Boodskap (DB)

11. Die roofvoëls het later op die dooie diere neergesak. Abram moes hulle heeltyd wegjaag.

12. Teen sononder het Abram aan die slaap geraak. Alles rondom hom het donker geword en hy het baie diep geslaap.

13. In sy slaap het die Here toe vir hom gesê: “Abram, daar is iets wat jy moet weet. Jou kinders sal 400 jaar lank in ’n vreemde land woon en soos slawe moet werk.

14. Op ’n dag sal Ek egter die nasie straf wat jou kinders so sal laat swaarkry. Daarna sal Ek jou kinders met baie besittings uit daardie land laat trek.

15. Abram, jy sal oud word en wanneer jy doodgaan, sal hulle jou by jou mense begrawe.

16. Vier geslagte later sal jou kinders weer na hierdie land terugkom. Dan sal die Amoriete se tyd kom om oor hulle sondes gestraf te word.”

17. Na die son ondergegaan het en dit donker was, het daar skielik iets soos ’n rokende vuuroond en ’n vlammende fakkel gekom. Dit het stadig tussen die oopgesnyde diere deur beweeg.

18. Daardie dag het die Here ’n ooreenkoms met Abram gemaak. Hy het vir Abram gesê: “Onthou, aan jou kinders gee Ek hierdie land. Alles van die Nyl in Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraat, sal hulle s’n wees.

19. “Ek gee hulle die lande van die Keniete, die Kenissiete en die Kadmoniete,

20. die Hetiete, die Feresiete en die Refaïete,

21. die Amoriete, die Kanaäniete, die Girgasiete en die Jebusiete.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 15