Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 1:10-24 Die Boodskap (DB)

10. God het die droë land “aarde” genoem en die plek waar al die water bymekaargekom het, “see”. God het gesien dat dit wat Hy geskep het, goed was.

11. God het weer gepraat en gesê: “Laat die aarde sy groeikrag wys en laat daar oral welige groen plante uitkom; verskillende plante met hulle sade. Laat daar oor die hele aarde verskillende soorte vrugtebome wees.” En alles het presies so gebeur.

12. Uit die vrugbare aarde het daar oral welige groen plante opgekom, alle denkbare soorte plante. En binne-in elke plant was elkeen se saad. Daar was ook oral vrugtebome. God was baie tevrede met wat Hy rondom Hom gesien het.

13. Dit het toe nag geword en weer dag. En dit was die derde dag van die skepping.

14. God het gesê: “Laat daar ligte in die hemelruim wees sodat mense kan weet wanneer dit dag en wanneer dit nag is. Laat die ligte die mense help om die regte tyd te bepaal.

15. Laat die ligte aan die hemelruim ook elke dag vir die mense op die aarde lig gee.” En dit het so gebeur.

16. God het twee groot ligte gemaak. Die ou grote, die son, moes oor die dag heers. En die kleintjie, die maan, oor die nag en die sterre.

17. God het hierdie twee ligte toe bo in die hemelruim geplaas, sodat dit lig op die aarde bring:

18. die grote oor die dag en die kleintjie oor die nag. So is die lig van die donkerte geskei. En God was baie tevrede met die son en die maan wat Hy gemaak het.

19. Dit het toe nag geword en weer dag. En dit was die vierde dag van die skepping.

20. God het gesê: “Laat die waters wemel van alle soorte seediere en laat die voëls oor die lengte en die breedte van die hemelruim rondvlieg.”

21. God het toe die groot seediere gemaak, so ook alle diere wat in die waters leef. God het ook elke denkbare soort voël gemaak. Hy was baie tevrede met al die seediere en voëls wat Hy gemaak het.

22. God het hulle geseën en gesê: “Wees vrugbaar en word baie. Maak nou die water van die see vol met allerhande soorte seediere. En laat die hemelruim en die aarde vol swerms voëls wees.”

23. Dit het toe nag geword en weer dag. En dit was die vyfde dag van die skepping.

24. God het gesê: “Laat die aarde verskillende soorte diere oplewer: alle soorte klein- en grootvee, kruipende dinge en wilde diere.” En dit was so.

Lees volledige hoofstuk Genesis 1