Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 32:1-10 Die Boodskap (DB)

1. Op die derde Maart 585 v.C., toe koning Jojagin al twaalf jaar lank ’n gevangene in ’n vreemde land was, het die Here vir my gesê:

2. “Mens, huil oor die farao, die koning van Egipte. Sê vir hom: Jy dink jy is soos ’n sterk jong leeu. Jy is só trots as jy tussen die ander nasies is. Maar weet jy wat jy eintlik is? Jy is eintlik maar net ’n seemonster wat in ’n rivier beland het. En al wat jy regkry, is om modder op te skop.

3. “Daarom stuur Ek baie mense om teen jou te baklei,” sê die Here, Esegiël se God. “Hulle sal jou in hulle nette injaag en jou uit die water sleep.

4. Dan sal Ek jou daar op die strand laat lê. Jy sal daar doodgaan. Al die voëls sal op jou karkas kom sit. En die wilde diere sal aan jou kom vreet.

5. Ek maak dat jy op die berge lê, en dat jou bene in die valleie rondlê.

6. Ek maak die aarde nat met jou bloed, tot by die berge. Jou bloed sal die valleie vol loop.

7. Die dag as Ek jou van die aarde afvee en jou doodmaak, sal Ek sorg dat die sterre donker word. Die wolke sal voor die son inskuif. En die maan sal donker wees.

8. Ja, die hele wêreld sal donker word, oor die hele Egipte. Selfs die helderste sterre bokant jou sal donker wees. Want Ek, die Here, die God van Esegiël, beveel dat dit moet gebeur.

9. “Ek sal die mense wat in jou oorbly na ver lande laat wegvat as gevangenes. Mense sal nie glo wat met jou gebeur het nie. Hulle sal wit geskrik wees as Ek jou vernietig.

10. Ja, Ek maak dat mense oor die hele wêreld bleek sal word soos hulle skrik. Die konings van die wêreld sal bewe, so bang is hulle dat hulle ook doodgemaak word as Ek Egipte verwoes.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 32