Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 26:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Op die derde Februarie 585 v.C. het die Here weer met my gepraat. Ons was toe al twaalf jaar lank saam met ons koning, Jojagin, gevangenes in ’n vreemde land. Die Here het vir my gesê:

2. “Die stad Tirus was so bly toe Jerusalem deur sy vyande verslaan is. Hy het gesê: ‘Hulle kry hulle verdiende loon! Jerusalem het skatryk geword toe hy handel gedryf het met die mense van Babilonië. Nou is hy nie meer daar nie. En nou gaan ek ryk word omdat ek my goed aan Babilonië kan verkoop. Ek sal ryk word, want Jerusalem is verwoes!’”

3. Daarom sê die Here, die God van Esegiël, van jou: “Ek word jou vyand, stad van Tirus! En Ek sal baie nasies teen jou in opstand laat kom. Hulle sal oor jou spoel soos die golwe van die see.

4. Hierdie nasies sal die mure van Tirus stukkend breek. Sy torings sal almal inmekaarval. Ek sal sy grond bymekaarskraap en weggooi sodat daar net ’n hoop klippe oorbly.

5. Niemand sal meer op die eiland van Tirus woon nie. Die vissermanne sal hulle visnette uitgooi om droog te word daar waar die besige stad nou staan. Dit is Ek, die Here, die God van Esegiël, wat praat. Tirus sal die slagoffer wees, en die wilde dier wat hom agtervolg, is die nasies.

6. Ek sal al Tirus se dorpe en stede verwoes in die oorlog wat kom. Dan sal hulle erken dat Ek die Here is.”

7. So sê die Here, die God van Esegiël: “Ek stuur koning Nebukadnesar van Babilonië om teen Tirus te baklei. Hy is die koning wat oor almal in die noorde regeer. Hy gaan hier opdaag met sy perde en ruiters, met baie soldate en wapens.

8. Hy sal eerste die groot dorpe van Tirus vernietig. Dan sal hy die hoofstad van die land aanval. Hy sal ’n wal teen die stad se mure oprig. Dan sal hy jou muur vernietig en oor die stad stroom met al sy soldate.

9. Hy sal al jou mure afbreek en jou torings vernietig.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 26