Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 17:15-21 Die Boodskap (DB)

15. “Maar toe gebeur dit. Hierdie man van die koninklike familie met wie die Babiloniese koning ’n ooreenkoms gesluit het, het teen die koning in opstand gekom. Hy het sy boodskappers Egipte toe gestuur en gevra dat Egipte hom moet help om in opstand te kom teen die Babiloniese koning. Hy het gevra dat die Egiptiese koning vir hom ’n groot klomp soldate en wapens stuur sodat hy die Babiloniese koning uit sy land kon verdryf. “Kan Israel sy ooreenkoms met die Babiloniese koning sommerso verbreek en dink dat hy skotvry daarvan gaan afkom?

16. Nee! So seker as wat Ek is wie Ek sê Ek is,” sê die Here, Esegiël se God, “die koning van Israel sal as ’n gevangene in Babilonië doodgaan. Hy sal doodgaan in Babilonië, die land van die koning vir wie hy sy woord gegee het dat hy nie in opstand sal kom nie. Hy het sommerso sy woord verbreek en in opstand gekom.

17. Die koning van Egipte en sy groot weermag sal niks kan doen om Israel te help nie. Die koning van Babilonië sal maar net weer teen Jerusalem optrek en die stad verslaan. En dan sal die koning van Babilonië baie mense doodmaak.

18. Want die koning van Israel het belowe dat hy nie teen die koning van Babilonië in opstand sal kom nie, maar hy het sy belofte verbreek. Daarom sal hy nie ontsnap nie.

19. Daarom sê die Here, die God van Esegiël: “Ek verseker jou, Ek sal die koning van Israel self straf omdat hy nie sy belofte gehou het nie. Hy het sy belofte in my teenwoordigheid gemaak, maar toe het hy dit verbreek.

20. Ek sal my vangnet oor hom gooi en hom vang soos ’n wilde voëltjie gevang word. En dan sal Ek hom na Babilonië toe bring. Daar sal Ek hom straf omdat hy teen My in opstand gekom het.

21. Dan sal al die beste soldate van Israel in die oorlog teen Babilonië doodgemaak word. En die mense wat in Jerusalem oorbly, sal oor die hele aardbol verstrooi word. As dit gebeur, sal julle weet en erken dat Ek die Here is en dat Ek vooruit voorspel het dat dit so gaan gebeur.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 17