Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 40:1-10 Die Boodskap (DB)

1. Die Here het weer met Moses gepraat:

2. “Jy moet die tent op die nuwejaarsdag, die eerste dag van die eerste maand, oprig. By hierdie tent sal Ek my volk ontmoet.

3. Gaan sit die ark met die bewys van ons ooreenkoms op sy plek in die tent. Hang dan die gordyn voor die ark om dit van die ander deel van die tent af te skerm.

4. Gaan sit ook die tafel op sy plek en rangskik alles wat daarby behoort, rondom hom. Sit ook die ligstaander op sy plek en hang sy lampies op hulle plek aan die staander.

5. Gaan sit die goue altaartjie op sy plek reg voor die gordyn wat voor die ark hang. Hang ook die gordyn by die ingang van die tent op sy plek.

6. Gaan sit die altaar vir die brandoffers buite die tent regoor die ingang na die tent.

7. Sit die koperbak waar die priesters hulle was, tussen die tent en die altaar neer. Maak dit vol water.

8. Sit die linnemure rondom die binnehof op. Hang die gordyn op by die ingang na die binnehof.

9. “Vat dan van die salfolie en gooi daarvan uit oor die tent en alles wat daar binne-in is. Dra die tent en alles wat daar kom aan My op, sodat dit vir My afgesonder kan wees.

10. Gooi ook salfolie oor die brandofferaltaar uit en oor alles wat daarby hoort. Dra die altaar aan My op, sodat dit uitsluitlik aan My gewy kan wees.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 40