Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 4:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Moses vra toe vir die Here: “Wat gebeur as hulle my nie glo nie en nie aanvaar wat ek sê nie? Wat gebeur as hulle sê: ‘Jy het nie regtig die Here ontmoet nie’?”

2. Die Here vra hom toe: “Wat het jy daar in jou hand?”Hy antwoord: “Dis ’n stok.”

3. Die Here sê toe: “Gooi dit op die grond neer.” Toe Moses dit op die grond gooi, verander dit in ’n slang. Moses wou weghardloop,

4. maar die Here sê vir hom: “Vang die slang aan sy stert.” Toe Moses die slang aan die stert gryp, het dit weer ’n stok in sy hand geword.

5. Die Here sê: “Hierdie teken sal hulle oortuig dat jy regtig die Here, die God van hulle voorouers, die God van Abraham, Isak en Jakob, ontmoet het.”

6. Die Here het vir Moses ook nog ’n tweede teken gegee. Hy het vir hom gesê: “Steek jou hand in jou klere.” Hy het dit gedoen. Toe hy sy hand uithaal, was dit vol spierwit sere.

7. Die Here sê toe: “Steek weer jou hand in jou klere.” Toe hy dit doen en sy hand weer uittrek, was sy vel soos dit voor die tyd was.

8. Die Here sê toe: “As die eerste teken hulle nie oortuig om jou woord te aanvaar nie, sal hierdie tweede teken dit doen.

9. As hulle selfs na die tweede teken weier om jou te glo en nog steeds nie jou woord wil aanvaar nie, moet jy water uit die Nyl skep en dit op die droë grond uitgooi. Dit sal op die grond in bloed verander.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 4