Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 37:15-29 Die Boodskap (DB)

15. Hulle het die drastokke van akasiahout gemaak om deur die ringe te pas. Ook dié drastokke is met goud oorgetrek.

16. Daarby het hulle die skottels en bakke waarin die geurige offers kom, en die flesse en komme wat by die tafel gebruik word, van suiwer goud gemaak.

17. Besaleël-hulle het ook die goue ligstaander gemaak. Sy voetstuk en steel is uit een stuk goud gemaak. Dit is met blomkelke, blomknoppe en kroonblare versier.

18. Ses arms het uit die steel gekom, drie aan die een en drie aan die ander kant.

19. Aan elkeen van die ses arms wat uit die stam uitkom, was daar drie kelkies in die vorm van amandelbloeisels met knoppe en kroonblare.

20. Aan die bokant van die steel self was daar vier blomkelke in die vorm van amandelbloeisels met knoppe en kroonblare.

21. Aan die onderkant van elkeen van die arms, net waar dit uit die steel kom, was daar ’n blomknop.

22. Die arms en blomknoppe is alles uit een stuk goud gemaak.

23. Hulle het ook sewe olielampe vir die kandelaar gemaak. Die tangetjie waarmee die vlammetjies uitgedoof word en die oliepithouer vir die lampies is van suiwer goud gemaak.

24. Hulle het 34 kilogram suiwer goud gebruik om die staander en alles wat daarby hoort te maak.

25. Onder Besaleël se toesig is ook die kleiner altaar uit akasiahout gemaak. Dit was vierkantig: 45 sentimeter breed en 90 sentimeter hoog. Dit het een geheel gevorm met sy horingagtige uitsteeksels.

26. Alles, van die plat vlak bo-op en die vier sye, sowel as die horings, was met suiwer goud oorgetrek. Daar was ook ’n rand van goud reg rondom die altaar.

27. Hy het twee stelle draringe van goud vir die altaar laat maak en hulle aan die twee teenoorstaande kante net onder die omranding vasgesit. Daardeur kon die drastokke gesit word waaraan die altaar gedra kon word.

28. Ook die drastokke wat hiervoor gemaak is, is met suiwer goud oorgetrek.

29. Besaleël het ook soos ’n goeie apteker ’n mengsel salfolie vir die tempel aangemaak.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 37