Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 35:1-17 Die Boodskap (DB)

1. Moses het al die Israeliete bymekaar laat kom. Hy het vir hulle gesê:

2. “Die Here verwag van julle dat julle vir ses dae sal aangaan met die dinge wat julle elke dag doen. Op die sewende dag moet julle daarmee ophou. Uit respek vir die Here moet julle heeltemal uitspan. As iemand op daardie dag aangaan met sy werk, sal hy doodgemaak word.

3. Op die rusdag mag julle glad nie vuur maak waar julle woon nie.”

4. Moses het verder vir almal wat daar bymekaar was, gesê: “Die Here verwag van julle

5. dat julle vir Hom geskenke sal bring. Julle kan kies wat julle vir die Here gaan bring: dit kan van goud, silwer of brons gemaak wees;

6. van blou, pers of bloedrooi wolstof, van linne, bokhaar,

7. rooigekleurde ramsvelle of gebreide velle of akasiahout.

8. Dit kan olie vir die lampe van die ligstaander wees, of kruie vir die salfolie en die wierookoffers.

9. Dit kan ook oniks of ander halfedelstene wees wat op die skouerstuk en die sak voor Aäron se bors vasgesit kan word.”

10. “Almal wat die kennis en die vaardigheid het, moet kom help om die tent te maak.

11. Daar is baie dinge wat ons moet maak. Daar is die tent met die seile wat bo-oor kom; die hakies wat daaraan vasgewerk word; die panele en die dwarslatte wat hulle bymekaarhou; die silwer regop pale en hulle voetstukke;

12. die ark waarin die bewys van die ooreenkoms gehou word met die pale waarmee dit gedra word; die deksel wat bo-op die ark pas; die gordyn wat die tent in twee deel;

13. die tafel waarop die brode neergesit word met sy drahoute en sy toerusting;

14. die ligstaander wat die tent verlig en alles wat daarvoor nodig is; sy lampies en hulle olie;

15. die kleiner altaar vir die wierook met sy drastokke; die salfolie wat gemeng moet word en die wierook; die gordyn by die ingang van die tent;

16. die groot altaar buite waarop die offers verbrand word met sy koperrooster en drahoute en toerusting; die koperbak op sy voetstuk waar die priesters hulleself was;

17. die muur rondom die binnehof met sy regop pale en hulle kopervoetstukke en die gordyn by die ingang van die binnehof;

Lees volledige hoofstuk Eksodus 35