Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 33:13-23 Die Boodskap (DB)

13. As dit dan so is, sê asseblief vir my wat u planne is sodat ek kan weet wat U van my wil hê en ek dit kan doen. Hierdie nasie wat ek moet lei, is immers tog u eie volk.”

14. “Moet Ek dan self saamgaan dat jou hart rus kan kry?” vra die Here toe vir Moses.

15. “Asseblief,” sê Moses vir die Here, “as U nie self saamgaan nie, moet U ons glad nie hiervandaan af laat weggaan nie.

16. Waaraan anders sal ons weet of U vir ons omgee of nie? Ons sal dit net weet as U saam met ons gaan. Waaruit anders sal dit duidelik wees dat U anders oor ons voel as oor al die ander volke op aarde?”

17. “Goed,” het die Here vir hom gesê, “Ek sal dan maar saam met julle gaan, soos jy gevra het. Ek sal maak soos jy vra, want Ek ken jou baie goed.”

18. Toe vra Moses: “Kan ek maar asseblief sien hoe U lyk?”

19. Die Here sê toe vir hom: “Ek doen graag iets vir iemand as Ek dit self besluit. Ek bederf graag mense wat Ek ’n guns wil bewys. Ek sal jou wel iets van my grootheid laat sien. Ek sal dat jy my stem hoor wanneer Ek my Naam ‘Here’ voor jou sê.

20. Jy mag egter nie my gesig sien nie. Geen mens sal bly lewe as hy die Here se gesig moet sien nie.

21. Kom, hier is ’n rots waarby jy kan staan.

22. Wanneer Ek met my Goddelike grootheid hier verbygaan, sal Ek jou tussen die rotse laat staan en jou met my hand beskerm totdat Ek verby is.

23. Wanneer Ek verby is en my hand wegvat, sal jy My van agter af kan sien. Niemand mag My egter van voor af sien nie.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 33