Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 26:7-29 Die Boodskap (DB)

7. “Maak ’n tweede laag vir die dak van bokhaarmateriaal om bo-oor die eerste laag te trek. Hiervoor is elf stukke materiaal nodig.

8. Al elf stukke moet presies ewe groot wees. Elkeen moet vyftien meter lank en twee meter breed wees.

9. Maak weer twee stelle op. Vir die een stel werk jy vyf stukke materiaal aan mekaar vas. Vir die ander een gebruik jy ses stukke. Die sesde stuk word dubbel gevou. Dit sal by die voorkant van die tent kom.

10. Werk lussies al om die buitekant van elkeen van die twee stelle sodat daar 50 lussies is wat teenoor mekaar is wanneer die twee stelle op mekaar gesit word.

11. Maak ook 50 koperhakies om deur die lussies te haak sodat die twee velle aan mekaar vasgehaak kan word om een dubbelvel te maak vir die tweede laag van die tent se dak.

12-13. Die gedeelte van hierdie laag wat groter is as die een onder hom, moet so gespan word dat dit ewe veel aan albei die lang kante van die tent oorhang.”

14. “Die boonste laag van die dak moet van gelooide ramsvel gemaak word met gebreide vel oor.”

15. “Jy moet ’n raam van akasiahout vir die tent maak.

16. Die raam is saamgestel uit houtpanele wat elkeen vyf meter hoog en 75 sentimeter breed is.

17. Aan elke paneel moet daar twee laspunte wees, sodat die een paneel aan die volgende een gelas kan word. Al die panele van die tent moet eenders lyk.

18. Maak twintig panele vir die suidelike muur van die tent.

19. Jy moet ook 40 voetstukke van silwer maak om onder die panele te sit. “

20-21. Die muur van die tent aan die oorkant wat noord front, bestaan ook uit twintig panele met 40 voetstukke, twee onder elke paneel.

22. Vir die koppenent aan die westekant moet daar ses gewone panele wees,

23-24. en ook twee versterkte hoekpanele.

25. Hierdie muur bestaan dus uit agt panele met sestien silwervoetstukke.

26. “Jy moet ook dwarslatte van akasiahout maak wat die panele bymekaar kan hou. Daar moet vyf latte vir elke muur wees:

27. vyf vir die twee lang kante en vyf vir die muur aan die endkant.

28. Die middelste dwarslat moet op halfhoogte dwarsoor die panele van punt tot punt loop.

29. Trek die panele met goud oor. Sit goue ringe aan hulle vas waardeur die dwarslatte gesteek kan word. Trek ook die dwarslatte met goud oor.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 26