Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 26:26-36 Die Boodskap (DB)

26. “Jy moet ook dwarslatte van akasiahout maak wat die panele bymekaar kan hou. Daar moet vyf latte vir elke muur wees:

27. vyf vir die twee lang kante en vyf vir die muur aan die endkant.

28. Die middelste dwarslat moet op halfhoogte dwarsoor die panele van punt tot punt loop.

29. Trek die panele met goud oor. Sit goue ringe aan hulle vas waardeur die dwarslatte gesteek kan word. Trek ook die dwarslatte met goud oor.

30. Jy moet die tent maak sodat dit presies lyk soos Ek dit vir jou op die berg gewys het.”

31. “Jy moet ook ’n gordyn maak om die tent in twee te verdeel. Dit moet van geweefde linne wees waarin blou, pers en bloedrooi draad kunstig ingeweef is en waarop figure met vlerke geborduur is.

32. Hang die gordyn aan vier regop akasiahoutpale wat met goud oorgetrek is en waaraan daar hakies is. Elke paal moet ’n silwervoetstuk hê.

33. Hang die gordyn aan die hakies op sodat dit die deel van die tent wat vir My eenkant gehou word, van die ander deel kan afskort. Kom sit dan die ark met die bewys van die ooreenkoms in, in hierdie afgesonderde deel agter die gordyn neer.

34. Sit ook sy deksel op.

35. “Kom sit ook die tafel en die ligstaander teenoor mekaar in die ander gedeelte voor die gordyn neer. Die tafel moet teen die noordelike muur staan en die staander vir die lampies teen die suidelike muur.

36. “Die ander deel van die tent waar daar nie panele is nie, is die ingang van die tent. Daarvoor moet jy ’n gordyn maak om voor die ingang te hang. Dit moet van geweefde materiaal wees met blou, pers en bloedrooi wol en met borduursel op.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 26