Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 25:9-27 Die Boodskap (DB)

9. Dit moet gemaak word volgens die voorbeeld wat Ek hier op die berg vir jou wys. Julle moet ook al die verskillende goed maak wat by die tent moet kom.”

10. “Julle moet ’n ark van akasiahout maak. Dit moet 115 sentimeter lank en 70 sentimeter breed en hoog wees.

11. Dit moet aan die binnekant en aan die buitekant met suiwer goud oorgetrek word. Aan die buitekant moet dit ook ’n versierde goue rand hê.

12. Jy moet vier goue ringe maak waardeur drastokke gesteek kan word. Die ringe moet aan die onderste vier hoeke aan die lang kant van die ark vasgesit word. Daar moet dus twee stelle ringe aan die voorkant en twee aan die agterkant wees.

13. Maak drastokke van akasiahout wat deur die ringe kan pas. Trek hulle ook met goud oor.

14. Steek dan die drastokke deur die ringe van die ark sodat julle dit kan dra.

15. Hulle moet altyd in die ringe bly. Julle moet dit nie weer daar uithaal nie.

16. Die plat klippe wat Ek vir jou sal gee, sal die getuienis van ons ooreenkoms wees. Hulle moet binne-in die ark gebêre word.

17. “Jy moet ook ’n deksel maak wat op die ark pas. Dit moet net so groot soos die ark wees: 115 sentimeter lank en 70 sentimeter breed. Dit moet van suiwer goud gemaak word.

18. Maak ook twee beelde van hemelse figure met vlerke wat uit goud gevorm is.

19. Hulle moet bo-op die deksel vasgesit word met hulle gesigte na mekaar toe.

20. Hulle vlerke moet oor die deksel uitgesprei wees asof hulle dit beskerm. Hulle moet afkyk op die deksel.

21. Jy moet die getuienis van die ooreenkoms wat Ek aan jou gaan gee, binne-in die ark sit. Dan moet jy die deksel bo-op die ark pas.

22. Ek sal jou by daardie ark ontmoet. Ek sal daar met jou van die deksel af praat. Ek sal van tussen die figure met die vlerke op die ark vir jou alles sê wat Ek van die Israeliete verwag.”

23. “Jy moet ook ’n tafel van akasiahout maak. Dit moet 92 sentimeter lank en 46 sentimeter breed wees. Dit moet 70 sentimeter hoog wees.

24. Trek dit met suiwer goud oor en sit ’n goue rand reg rondom daaraan vas.

25. Slaan dan ’n lys reg rondom die tafel vas en sit ook daaraan ’n goue rand vas.

26. Jy moet ook vir die tafel ringe van goud maak soos vir die ark waardeur drastokke gesteek kan word.

27. Die ringe moet aan die lang kante op die hoeke net onder die lys vasgesit word. Twee stokke moet daardeur gesteek kan word om die tafel te dra.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 25