Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 24:6-15 Die Boodskap (DB)

6. Hy het van die bloed van die diere wat geoffer is, in bakke opgevang. Van die bloed het hy oor die offerplek uitgegooi.

7. Terwyl die volk na hom staan en luister, het Moses vir hulle die reëls voorgelees wat hy neergeskryf het. Daarin het die Here gesê wat Hy verwag van mense met wie Hy ’n ooreenkoms gesluit het. Hulle het toe weer ’n keer gesê: “Ons sal gehoorsaam wees. Ons sal alles doen wat die Here van ons verwag.”

8. Moses het van die bloed in die bakke oor die volk gesprinkel terwyl hy sê: “In ooreenstemming met die reëls wat ek vir julle voorgelees het, sluit die Here nou met hierdie bloed formeel ’n ooreenkoms met julle.”

9. Moses, Aäron, Nadab, Abihu en die 70 leiers van Israel het toe teen die berg uitgeklim.

10. Hulle het die God van Israel met hulle eie oë gesien. Hy het op iets gestaan wat soos ’n vloer lyk wat met saffiersteen uitgelê is. Dit was so helder soos die blou lug.

11. Hierdie beroemde leiers het God gesien. Hy het nie iets aan hulle gedoen toe hulle Hom gesien het nie. God en hulle het selfs daar saam geëet en gedrink.

12. Die Here het vir Moses gesê: “Klim verder teen die berg uit na My toe. Wanneer jy hier is, sal Ek vir jou plat klippe gee waarop Ek al die reëls en regulasies neergeskryf het wat jy vir die volk moet gee.”

13. Moses en sy helper Josua het toe gereedgemaak. Moses het verder teen die berg uitgeklim.

14. Voor hy van hulle af weg is, het Moses vir die leiers gesê: “Wag hier vir ons tot ons na julle toe terugkom. Aäron en Hur is hier by julle. As daar iets dringends is, moet julle na hulle toe kom.”

15. Terwyl Moses verder teen die berg uitklim, het die donker wolk weer afgesak en oor die berg gaan hang.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 24