Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 21:6-20 Die Boodskap (DB)

6. moet die eienaar saam met hom na die Here se plek toe gaan. Hy moet hom daar teen ’n deur of deurkosyn laat staan en met ’n els ’n gaatjie in sy oor maak. As hy dit gedoen het, bly daardie man vir die res van sy lewe sy slaaf.

7. “Wanneer iemand so diep in die skuld raak dat hy sy dogter moet verkoop om slawewerk te doen, word sy nie soos manlike slawe na ses jaar vrygestel nie.

8. As haar eienaar nie met haar wil trou nie, breek hy sy ooreenkoms met haar. Hy moet haar dan verkoop. Hy mag haar egter nie aan iemand van ’n ander volk verkoop nie.

9. As hy haar gekoop het om met sy seun te trou, mag hy haar nie langer behandel asof sy ’n slaaf is nie. Sy word vir hom soos sy eie dogter.

10. Indien hy egter wel self met haar trou en later met ’n tweede vrou ook trou, en sy word dan sy tweede vrou, mag hy nie ophou om vir haar te sorg en by haar te slaap nie.

11. As hy enige van hierdie dinge nie doen nie, het sy die reg om vry weg te gaan. Daar hoef dan nie ’n enkele sent vir haar betaal te word nie.”

12. “As iemand ’n ander persoon so beseer dat hy daarvan doodgaan, moet hy self doodgemaak word.

13. As hy dit nie vooraf beplan het nie, maar hom in die hitte van die stryd seergemaak het, sal Ek ’n plek gee waarheen hy mag vlug.

14. Wanneer iemand ’n ander koelbloedig doodmaak, moet hy weggevat word om opgehang te word, selfs al het hy na die altaar gevlug en daar gevra om vergewe te word.

15. Iemand wat sy ouers beseer, moet doodgemaak word.

16. As een mens ’n ander mens steel, of dit nou is om daardie persoon vir geld te verkoop of hom as slaaf aan te hou, is hy met die dood strafbaar.

17. Selfs minagting vir jou ouers is met die dood strafbaar.

18-19. “As twee mans aan die baklei raak, kan dit gebeur dat die een die ander een met ’n klip of met sy vuis slaan sodat hy in die bed beland. Dit kan gebeur dat hy nie daarvan doodgaan nie, maar met ’n kruk moet loop as hy weer regkom. As dit gebeur, moet die persoon wat hom geslaan het hom vergoed vir die tyd wat hy siek was en vir hom sorg tot hy weer gesond is.

20. As iemand sy manlike of vroulike werker so met ’n stok slaan dat die slaaf doodgaan, moet daardie persoon gestraf word.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 21