Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 18:10-19 Die Boodskap (DB)

10. Jetro het gesê: “Loof die Here! Hy het julle uit die greep van Egipte en uit die hand van die farao bevry. Hy het sy volk uit die kloue van Egipte geruk.

11. Nou weet ek dat die Here groter is as enige mag op aarde, as enige onregverdige ding wat hulle met julle gedoen het.”

12. Moses se skoonpa, Jetro, het toe ’n offer wat verbrand word en ook gewone offers van diere wat geslag word, vir God gebring. Aäron en die leiers van Israel het ook gekom en saam met hom die offer-ete geëet waarmee hulle die Here geloof en grootgemaak het.

13. Die volgende dag moes Moses as regter optree. Hy moes na die sake luister wat die mense van die volk teen mekaar gehad het en daaroor uitspraak lewer. Die mense het tou gestaan van vroeg tot laat en lank gewag vir hulle beurt.

14. Moses se skoonpa het gesien hoe Moses probeer om self al die sake van die volk te verhoor. Hy vra toe vir hom: “Wat probeer jy regkry? Hoekom wil jy al die hofsake alleen verhoor? Die volk moet die hele dag lank vir jou staan en wag.”

15. Moses het vir hom gesê: “Die volk kom na my toe omdat hulle God se beslissing wil hê.

16. Wanneer hulle van mekaar verskil oor ’n saak, kom hulle na my toe. Ek moet vir hulle leer wat in God se wette staan en vir hulle volgens die Here se reëls sê wie is reg en wie is verkeerd.”

17. “Jy hanteer die saak nie reg nie,” sê Moses se skoonpa toe vir hom.

18. “Hierdie ding gaan vir jou en die volk skeefloop. Jy laai te veel hooi op jou vurk. Jy kan dit onmoontlik alles alleen doen.

19. Luister nou na goeie raad. Mag die Here daarmee saamstem. Jy moet nog steeds namens die volk met die Here gaan praat. Gaan aan om met hulle sake na God toe te gaan en vir Hom te vra wat reg is.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 18