Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 16:14-25 Die Boodskap (DB)

14. Toe die dou verdamp, het daar op die grond ’n dun lagie vlokkies gelê wat soos ryp gelyk het.

15. Die Israeliete het nie geweet wat dit was nie. Hulle het vir mekaar gevra: “Wat is dit?” Moses sê toe vir hulle: “Dit is die brood wat die Here vir julle gee om te eet.

16. Dis hiervan dat die Here gesê het julle soveel bymekaar moet maak as wat elkeen elke dag nodig het. Julle moet elke dag vir elke persoon in julle tent twee kilogram daarvan optel.”

17. Die Israeliete het toe so gemaak. Die een het minder en die ander weer meer daarvan opgetel.

18. Dit was net mooi genoeg vir elke dag. Dié wat baie opgetel het, het nie te veel gehad nie. Daar was ook nie te min vir dié wat minder opgetel het nie. Daar was elke dag net mooi genoeg vir elkeen om te eet.

19. Moses het ook vir hulle gesê: “Julle mag nie iets vir die volgende dag laat oorbly nie.”

20. Daar was ongelukkig mense wat nie na Moses geluister het nie. Hulle het daarvan tot die volgende oggend laat oorbly. Daar het toe goggas in gekom en dit het sleg geruik. Moses het vies geword vir hulle.

21. Hulle het elke oggend vroeg gegaan en bymekaargemaak wat hulle nodig gehad het. Wanneer die son later op die grond begin bak, het alles wat nie opgetel is nie, weggesmelt.

22. Op die sesde dag moes hulle dubbel soveel as gewoonlik bymekaarmaak: vier kilogram vir elkeen. Die leiers het vir Moses kom vra of dit reg is.

23. Hy het vir hulle gesê: “Dit is soos die Here gesê het ons moet maak. Môre is die Here se dag waarop ons moet rus. Julle moet reeds vandag gaarmaak wat julle vir môre nodig gaan hê. Bak vandag wat julle wil bak en kook wat julle wil kook. Wat te veel is vir vandag, moet julle regsit om môre op die rusdag te eet.”

24. Hulle het gemaak soos Moses gesê het hulle moet maak. Hulle het dit vir die sewende dag gebêre. Dit het glad nie sleg geword nie. Daar het ook nie goggas in gekom nie.

25. Moses het vir hulle gesê: “Julle kan dit gerus maar vandag eet, want dit is vandag die Here se rusdag. Julle sal nie vandag enigiets in die veld kry om op te tel nie.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 16