Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 14:25-31 Die Boodskap (DB)

25. Hy het hulle strydwaens se wiele so laat vasval in die seesand dat hulle glad nie kon beweeg nie. Die Egiptenaars het vir mekaar begin sê: “Ons moet wegkom van hierdie Israeliete af. Die Here is besig om aan hulle kant teen ons te veg.”

26. Die Here sê toe vir Moses: “Steek weer jou hand oor die see uit. Die waters sal terugstroom oor Egipte, oor sy oorlogswaens en hulle manskappe.”

27. Moses het sy hand oor die see uitgesteek. Teen dagbreek het die see weer begin terugloop na waar dit vroeër was. Die Egiptenaars het voor die water probeer padgee, maar die Here het hulle in die see laat verdrink.

28. Toe die water oor hulle terugvloei, het die oorlogswaens met hulle bemanning en al onder die water verdwyn. Van die hele leër van die farao wat agter die Israeliete aan is die see in, het daar nie ’n enkele een oorgebly nie.

29. Die Israeliete het op droë grond deur daardie see getrek. Vir hulle was die water soos twee mure waartussen jy deurgeloop het.

30. So het die Here daardie dag vir Israel uit die kloue van die Egiptenaars gered. Die Israeliete het die lyke van die Egiptenaars op die strand sien lê.

31. Hulle het gesien hoe die Here met vernietigende krag teen Egipte geveg het. Die volk het baie groot respek vir die Here gekry. Hulle het in die Here geglo. Hulle het ook begin glo dat die Here Moses na hulle toe gestuur het.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 14