Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 8:1-12 Die Boodskap (DB)

1. Moses het verder vir hulle gesê: “Bêre alles wat ek jou vandag vertel diep in jou hart weg. En gaan doen dit. Dan sal jy nog lank leef en baie kinders hê. En jy sal ook die nuwe land kan binnegaan en daar gaan woon.

2. Jy moet altyd terugdink aan die 40 jaar wat verby is. Kyk altyd terug na die pad waarmee die Here jou deur die woestyn gelei het. Hy het jou swaar laat kry sodat jy nederig kon word en kon leer om sy voorskrifte te gehoorsaam.

3. Jy was dikwels honger, maar die Here het vir jou manna gegee. Dit was iets wat jy en jou voorgeslagte nie geken het nie. So wou die Here jou leer dat ’n mens nie van brood alleen kan leef nie, maar dat die beloftes en die woorde van die Here jou ook versadig maak.

4. In die 40 jaar wat verby is, het jou klere nie eintlik verslyt nie en het jou voete nie eens geswel van al die stap nie.

5. Dink altyd daaraan dat die Here jou in die woestyn soos ’n kind grootgemaak en geleer het.

6. So wou Hy jou leer om Hom lief te hê en volgens sy wil te leef.”

7. “Die Here jou God gaan jou in die goeie land inbring, ’n land van baie water, fonteine en riviere wat oral ontspring;

8. ’n land van koring en gars, van wingerde, vyebome en granate; ’n land van olyfbome en baie heuning;

9. ’n land waar daar nooit ’n skaarste aan brood sal wees nie en waarin jy niks sal kortkom nie; ’n land waar die klippe yster is en ’n mens koper sommer uit die berg kap;

10. ’n land waarin jy baie sal eet en versadig sal word. Wanneer dit gebeur, sal jy die Here jou God loof omdat Hy vir jou goed was en jou in ’n wonderlike land gebring het.”

11. “Sorg dat jy nooit die Here vergeet nie. En moet nooit ophou om volgens sy wil te leef nie. Luister goed na alles wat ek jou vandag vertel.

12. Wanneer jy eendag genoeg het om van te leef en in die mooi huise woon wat jy gebou het,

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 8