Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 6:6-18 Die Boodskap (DB)

6. Al die woorde wat ek jou vandag leer, moet jy in jou hart bêre en altyd daaraan dink.

7. Jy moet ook jou kinders daarvan vertel en jy moet oral daaroor praat. Of jy nou in jou huis sit, of jy op pad is, of jy ’n bietjie gaan lê of weer opstaan, jy moet altyd dink oor wat die Here van jou vra.

8. Maak sy voorskrifte aan jou arms vas en bind dit styf vas om jou voorkop.

9. Skryf dit op jou huis se deurkosyne en op die groot hekke van die stad.”

10. “Wanneer die Here julle in die land bring wat Hy lank gelede al aan Abraham, Isak en Jakob beloof het, sal julle in mooi, groot stede woon; stede wat julle nie self gebou het nie.

11. Julle sal in huise vol mooi dinge bly, maar wat julle nie self mooi gemaak het nie. Daar sal ook waterputte wees wat julle nie self uitgekap het nie en wingerde en olyfbome wat julle nie self geplant het nie. In die nuwe land sal daar altyd kos wees.

12. Sorg dus dat jy nooit die Here vergeet nie. Dink altyd aan Hom wat jou uit Egipte waar jy verdruk is, kom wegvat het.

13. Jy moet die Here altyd liefhê, Hom dien en net in sy Naam beloftes aflê.

14. Moet nooit die gode van die ander nasies rondom jou aanbid nie.

15. Die Here jou God duld geen ander gode nie en as jy hulle aanbid, sal die Here se woede jou soos ’n vuur vernietig.

16. “Julle moenie die Here se geduld beproef soos julle dit by Massa gedoen het nie.

17. Sorg eerder dat julle die Here se wil ken en dit gehoorsaam.

18. Doen wat goed en reg is in die oë van die Here, dan sal dit met jou goed gaan. Jy sal die land wat die Here alreeds aan jou voorvaders beloof het, binnegaan en gelukkig daar woon.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 6