Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 32:44-52 Die Boodskap (DB)

44. Moses het toe hierdie lied vir die volk geleer. Josua, Nun se seun, het langs hom gestaan en hom gehelp.

45. Toe Moses klaar was,

46. het hy vir die Israeliete gesê: “Julle moet mooi luister na wat ek vandag vir julle gesê het. Vertel ook vir julle kinders wat ek vandag vir julle gesê het. Leer hulle om dit te doen.

47. Wat ek vir julle gesê het, is nie net praatjies nie. Nee, hierdie woorde bring lewe. As julle presies doen wat ek vir julle gesê het, sal julle lank leef en oud word in die land wat julle nou ingaan wanneer julle deur die Jordaan getrek het.”

48. Daardie dag het die Here vir Moses gesê:

49. “Gaan klim op die Neboberg. Hierdie berg is aan die oostekant van die Jordaan, oorkant Jerigo. Kyk goed na Kanaän. Dis die land wat Ek vir die volk Israel gee sodat hulle daarin kan bly en dit besit.

50. Jy sal daar op die berg doodgaan. So het jou broer Aäron ook doodgegaan, op die Horberg.

51. Albei van julle het van My af weggedraai en voor die Israeliete verkeerd opgetree toe julle vir hulle water uit die rots gegee het by Meriba-Kades in die Sinwoestyn. Julle het My nie gerespekteer met wat julle daar aangevang het nie.

52. Daarom sal jy die land net op ’n afstand sien, die land wat Ek vir jou volk gaan gee. Maar jy mag nie self daar ingaan nie.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 32