Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 32:38-52 Die Boodskap (DB)

38. Waar is die afgode voor wie julle offers van vet gebrand het en vir wie julle wyn uitgestort het? Julle het mos gedink dis hulle wat goed aan julle doen! Laat julle gode nou opstaan en julle kom help! Ek gaan julle nou straf. Hardloop nou na julle afgode toe, dat hulle julle kan help as hulle kan!

39. “Julle moet dit goed besef: Ek is die Here. Ek alleen is die Here. Daar bestaan geen ander God nie. Ek besluit wie moet bly lewe en Ek besluit wie doodgemaak moet word. Dis Ek wat jou siek maak en dis Ek wat jou gesond maak. Niks en niemand kan jou uit my hand red nie.

40. En nou belowe Ek so seker as wat Ek leef

41. dat Ek my vyande sal straf. Ek sal persoonlik ’n wapen vat en daardie mense bykom wat met hulle slegte dade My tart en beledig. Ek sal wraak neem op mense wat gedink het hulle hoef hulle nie aan My te steur nie.

42. Oral waar Ek mense straf vir hulle slegte dade, sal daar net bloed wees. Ek maak almal dood wat Ek gevange geneem het. Ja, Ek maak ook die leiers van my vyande almal dood.

43. “Daarom moet almal wat in die hemel bly vrolik wees. Hulle moet feesvier en God aanbid. Al die mense wat die Here dien, moet ook vrolik wees. Want die Here maak dié mense dood wat sy kinders aangeval het en hulle skade berokken het. Hy maak al sy vyande dood. Hy maak sy land en sy mense skoon. Daar sal weer vrede wees tussen die Here en sy volk.”

44. Moses het toe hierdie lied vir die volk geleer. Josua, Nun se seun, het langs hom gestaan en hom gehelp.

45. Toe Moses klaar was,

46. het hy vir die Israeliete gesê: “Julle moet mooi luister na wat ek vandag vir julle gesê het. Vertel ook vir julle kinders wat ek vandag vir julle gesê het. Leer hulle om dit te doen.

47. Wat ek vir julle gesê het, is nie net praatjies nie. Nee, hierdie woorde bring lewe. As julle presies doen wat ek vir julle gesê het, sal julle lank leef en oud word in die land wat julle nou ingaan wanneer julle deur die Jordaan getrek het.”

48. Daardie dag het die Here vir Moses gesê:

49. “Gaan klim op die Neboberg. Hierdie berg is aan die oostekant van die Jordaan, oorkant Jerigo. Kyk goed na Kanaän. Dis die land wat Ek vir die volk Israel gee sodat hulle daarin kan bly en dit besit.

50. Jy sal daar op die berg doodgaan. So het jou broer Aäron ook doodgegaan, op die Horberg.

51. Albei van julle het van My af weggedraai en voor die Israeliete verkeerd opgetree toe julle vir hulle water uit die rots gegee het by Meriba-Kades in die Sinwoestyn. Julle het My nie gerespekteer met wat julle daar aangevang het nie.

52. Daarom sal jy die land net op ’n afstand sien, die land wat Ek vir jou volk gaan gee. Maar jy mag nie self daar ingaan nie.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 32