Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 28:8-21 Die Boodskap (DB)

8. “Die Here sal jou voorspoedig maak in alles wat jy doen. Jy sal nie genoeg skure hê om alles op te gaar wat Hy vir jou gaan gee nie. Die Here jou God sal jou voorspoedig maak in die land wat Hy vir jou gee.

9. “As jy alles doen wat die Here jou God jou beveel, sal Hy Israel as sy eie volk eenkant sit. Julle sal net aan Hom behoort en julle sal Hom dien. Hy het mos belowe dat Hy dit sal doen.

10. Al die ander nasies sal erken dat julle die Here se volk is. En hulle sal baie bang wees vir julle.

11. “Die Here sal vir jou baie van al die goeie dinge gee in die land wat Hy vir julle oupagrootjies belowe het om vir julle te gee. Julle sal baie kinders hê en baie skape en beeste, en julle sal elke jaar rekordoeste hê.

12. “Die Here sal vir julle reën gee elke keer as julle dit nodig het. Waar Hy bly, is daar baie skatte. En Hy sal sy skatte vir julle gee. Hy sal julle voorspoedig maak in alles wat julle doen.“Julle sal vir baie nasies leen, maar julle sal nie nodig hê om by enigiemand enigiets te leen nie.

13. “As julle baie mooi luister wat die Here julle God vir julle beveel en julle doen presies wat Hy sê, sal Hy julle die belangrikste op aarde maak. Julle sal oor ander nasies heers. Julle sal altyd die sterkste wees.

14. Wees baie versigtig dat julle niks nalaat wat die Here wil hê julle moet doen nie. Wees veral versigtig om nie voor ander gode neer te buig en hulle te aanbid nie.”

15. “As jy weier om te doen wat die Here jou God jou beveel, sal teëspoed jou tref. Probleme sal jou oorweldig.

16. “Dit sal dan sleg gaan met jou as jy in die stad bly, of as jy op die platteland boer.

17. “Jou mandjies sal leeg wees as jy die oes moet inbring omdat daar geen vrugte sal wees om te oes nie. Jou broodblik sal dolleeg wees. Jy sal niks hê om te eet nie.

18. “Jy sal ook min kinders hê en jou landerye sal nie oeste op hê nie. Jou skape sal nie lammers hê nie en jou beeste sal nie kalwers hê nie.

19. “Dit sal baie sleg met jou gaan in alles wat jy doen.

20. “Die Here sal self teëspoed en moeilikheid oor jou pad stuur. Niks wat jy doen, sal uitwerk nie. Dit sal so aanhou totdat jy uiteindelik vernietig en bankrot is. Dit gebeur omdat jy slegte dinge gedoen het. Jy het die Here se pad verlaat.

21. “Die Here sal siektes stuur wat jou mense sal uitroei. Hulle sal doodgaan totdat daar later niemand meer in die land oorbly nie, die land wat jy binnekort sal ingaan om as jou eie land vir jou te vat.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 28