Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 23:2-11 Die Boodskap (DB)

2. “Mense wat gebore is uit verhoudings wat nie deur die Here goedgekeur word nie, mag nie deel van die gemeente van die Here wees nie. Selfs so iemand se kinders en kleinkinders en agterkleinkinders mag nie aan die gemeente behoort nie.

3. “Ammoniete en Moabiete en hulle kinders en kleinkinders en agterkleinkinders mag nie aan die gemeente van die Here behoort nie.

4. Toe julle uit Egipte weggetrek het en in hierdie land aangekom het, wou hulle nie vir julle kos en water gee nie. Inteendeel, hulle het vir Bileam, die seun van Beor uit die stad Petor wat in Mesopotamië is, gehuur. Hy moes julle vloek.

5. Maar die Here jou God het Hom nie aan Bileam gesteur nie. Trouens, die Here het Bileam se vloeke in voorspoed vir jou verander. Hy het dit gedoen omdat Hy jou baie liefhet.

6. Jy mag nooit die Ammoniete en Moabiete op enige manier help of ondersteun nie. Jy mag hulle nie vrede of voorspoed toewens nie. Moenie hulle ooit goed behandel nie.

7. “Maar die Edomiete en die Egiptenaars mag jy nie sleg behandel nie. Die Edomiete is jou eie mense en die Egiptenaars het vir jou gesorg terwyl jy tussen hulle gebly het.

8. Die agterkleinkinders van Egiptenaars wat tussen julle bly, mag wel deel van die gemeente van die Here word.”

9. “As jy uittrek om teen jou vyande te gaan veg, moet jy oppas sodat jy nie verkeerde dinge doen nie.

10. “As daar ’n soldaat onder julle is wat in die nag ’n saadstorting gehad het en daarom onrein is, moet hy nie in die kamp saam met die ander soldate bly nie. Hy moet heeldag buitekant die kamp gaan bly.

11. Daardie aand moet hy hom dan goed was. Na die son gesak het, mag hy weer in die kamp kom.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 23