Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 21:17-23 Die Boodskap (DB)

17. Die ouer seun moet ’n dubbele deel kry van wat geërf word, soos dit die gebruik onder julle is. Die pa het immers hierdie seun eerste gehad en hierdie seun moet erf as die seun wat eerste gebore is, selfs al is hy die seun van die vrou vir wie die pa nie baie lief is nie.”

18. “Sê nou ’n pa het ’n seun wat nie wil luister wat hy vir hom sê nie. Die seun is opstandig teen sy pa en ma en steur hom nie aan wat hulle hom beveel nie. Selfs al slaan hulle hom, hoor hy nie.

19. Dan moet die pa en ma hulle seun na die leiers van die stad toe vat.

20. Hulle moet vir die leiers sê: ‘Hierdie seun van ons is opstandig teen ons. Hy luister nie as ons met hom praat nie. Al wat hy van die môre tot die aand wil doen, is om soos ’n vraat en ’n dronklap aan te gaan.’

21. “Dan moet al die mans van daardie stad die seun vat en hom met klippe doodgooi. As julle so maak, sal julle julle land skoonhou van slegte dinge. Al die inwoners van Israel sal hoor wat gebeur het, en dan sal hulle te bang wees om dit ook te doen.”

22. “Iemand onder julle mag die doodstraf opgelê word vir iets wat hy verkeerd gedoen het. Hy word dan opgehang.

23. Die lyk van hierdie man mag nie oornag aan die galg bly nie. Jy moet daardie selfde dag nog die lyk begrawe, want God vloek enige mens wat opgehang word. Moenie die land wat die Here jou God vir jou gee om in te gaan bly, onrein maak nie.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 21