Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 18:15-22 Die Boodskap (DB)

15. “Die Here jou God sal iemand onder jou volk stuur wat vir julle sal sê wat die Here wil hê julle moet weet, net soos Hy my gestuur het. Julle moet luister as hierdie man met julle praat, want hy sê wat hy van my hoor.

16. Dis mos wat julle daar by die berg Horeb ernstig vir die Here gevra het toe julle voor Hom bymekaar was. Julle het mooi gevra dat Hy nooit weer self met julle moet praat nie. Of dat Hy Homself weer in die vuur vir julle moet wys nie, want julle was bang dat julle sal doodgaan as Hy self met julle kom praat.

17. “Daar het die Here vir my gesê: ‘Goed, Ek sal maak soos hierdie klomp mense vir My gevra het.

18. Ek sal iemand stuur om vir julle te sê wat Ek julle beveel. Hy sal alles vir die volk kom vertel wat Ek hom beveel.

19. As een van julle nie wil luister wat hierdie man vir julle sê nie, sal hy met My self te doen kry. Ek sal self met hom afreken!

20. “‘Maar as daar iemand tussen julle is wat sê dat hy by ’n ander god ’n boodskap gekry het om vir julle te gee, of wat sê dat hy iets by My gehoor het, en hy lieg, moet julle hom doodmaak.’

21. “Miskien wonder julle: Hoe sal ons weet of hierdie mens werklik iets by die Here gehoor het? Het hy dit nie dalk sommer self uitgedink nie?

22. So sal julle kan uitvind of hy die waarheid praat: as hy iets voorspel en sê die Here het vir hom gesê dit gaan gebeur, en dit gebeur nie, dan weet julle mos dis nie die Here wat met hom gepraat het nie. Hierdie mens het sommer uit sy eie gepraat. Jy hoef jou nie aan hom te steur nie.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 18