Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 15:2-13 Die Boodskap (DB)

2. Dit beteken dat almal wat geld vir ’n mede-Israeliet geleen het, dit in die sewende jaar moet afskryf. Hy moet geensins probeer om dit terug te kry nie, want die Here het gesê dit moet so gebeur.

3. Jy mag wel die geld wat iemand van ’n ander volk jou skuld, probeer terugkry, maar nie wat jou broer jou skuld nie.

4. “Daar sal geen arm mense meer onder julle wees nie, want die Here sal jou voorspoedig maak in die land wat Hy jou beloof het.

5. Maar dan moet jy elke dag na die Here se stem luister en sy wil uitleef.

6. Soos die Here gesê het, sal dit met jou so goed gaan dat baie volke van jou sal leen sonder dat jy self hoef te leen, en jy sal oor baie heers sonder om self oorheers te word.

7. “Wanneer ’n mede-Israeliet in een van die dorpe van die land wat die Here aan jou gaan gee tog arm word en nie kos het om te eet nie, moet jy hom help. Jy mag nie jou hart en jou hand vir jou broer toemaak nie.

8. Jy moet jou hand en jou beursie oopmaak en vir jou broer genoeg geld vir kos en klere leen.

9. Moenie dink die sewende jaar is naby en dan weier om jou broer te help nie. Hy sal met die Here gaan praat; dan sal jy skuldig staan.

10. Jy moet jou broer help sonder om te kla. Die Here sal jou dan in alles voorspoedig maak.

11. Armes sal daar altyd wees; daarom moet jy sensitief vir jou broer se swaarkry wees.

12. “Wanneer ’n mede-Israeliet so baie skuld dat hy as ’n slaaf aan jou verkoop word, moet hy ses jaar lank vir jou werk, maar in die sewende moet jy hom weer laat weggaan.

13. Wanneer hy vertrek, moet jy hom darem nie met leë hande laat gaan nie.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 15