Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 15:10-23 Die Boodskap (DB)

10. Jy moet jou broer help sonder om te kla. Die Here sal jou dan in alles voorspoedig maak.

11. Armes sal daar altyd wees; daarom moet jy sensitief vir jou broer se swaarkry wees.

12. “Wanneer ’n mede-Israeliet so baie skuld dat hy as ’n slaaf aan jou verkoop word, moet hy ses jaar lank vir jou werk, maar in die sewende moet jy hom weer laat weggaan.

13. Wanneer hy vertrek, moet jy hom darem nie met leë hande laat gaan nie.

14. Gee hom volop van die goeie dinge waarmee die Here jou geseën het. Gee hom van jou vee, jou koring en jou wyn.

15. Onthou, jy was ook ’n slaaf in Egipte, maar die Here het jou daaruit weggevat. Dit is waarom ek jou vandag hierdie opdrag gee.

16. Wanneer daardie werker egter sê dat hy jou en jou gesin liefhet en eerder by julle wil bly, moet jy dit toelaat.

17. Jy moet hom teen ’n deur laat staan en met ’n skerp voorwerp dwarsdeur sy oor tot in die deur druk. Dit sal die teken wees dat hy vir altyd jou werker sal wees. Jy moet ook dieselfde met ’n vrou doen wat jou slaaf is.

18. Moenie bitter voel as jy ’n slaaf in die sewende jaar moet vrylaat nie. Hy het darem ses jaar vir jou teen die helfte van ’n gewone werker se salaris gewerk. Laat hom gaan en die Here sal vir jou ook goed wees.”

19. “Al die manlike diere van jou skape en beeste wat eerste gebore is, moet jy vir die Here opsy sit. Moenie daardie beeste laat werk of die skape skeer nie.

20. Elke jaar moet jy hierdie vee na die plek toe neem wat die Here nog sal kies. Dan moet jy dit daar in die teenwoordigheid van die Here slag en dit saam met jou familie eet.

21. Indien so ’n eersteling lam of blind is, moet jy dit nie vir die Here offer nie.

22. Dan kan jy dit sommer daar waar jy bly, slag en almal kan dit eet.

23. Net die bloed mag jy nie eet of drink nie. Gooi dit weg.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 15