Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 11:20-32 Die Boodskap (DB)

20. Skryf dit op julle huise se deurkosyne en op die groot hekke van die stad.

21. Dan sal julle en julle kinders lank en gelukkig in die land leef wat die Here vir julle voorouers beloof het. Julle sal in daardie land woon so lank as wat daar ’n hemel en ’n aarde is.

22. “Leef getrou volgens al die voorskrifte wat ek julle vandag gee. As julle die Here liefhet en sy wil streng uitleef,

23. sal Hy al die nasies wat in die land woon waarheen julle op pad is, verdryf sodat julle daar kan gaan bly. Hy sal nasies vernietig wat baie groter en sterker as julle is.

24. Elke plek waar julle in die land rondstap, sal julle s’n word. Die hele gebied van die woestyn af tot by die Libanonberg in die noorde en van die Eufraatrivier in die ooste tot by die Middellandse See in die weste.

25. Waar julle ook al gaan, sal julle die ander nasies oorwin. Niemand sal teen julle standhou nie. Die Here sal sorg dat almal vir julle bang is.”

26. “Vandag moet julle tussen ’n seën en vloek kies.

27. Indien julle al die gebooie van die Here gehoorsaam wat ek julle vandag hier gee, sal dit met julle sommer baie goed gaan.

28. Indien julle ongehoorsaam is en die rug vir die Here draai en ander vreemde gode aanbid, sal ’n vloek op julle rus.

29. Wanneer julle die Beloofde Land binnegegaan en daar gaan woon het, moet julle op die berg Gerisim die seën van die Here uitroep en op die Ebalberg sy vloek.

30. Hierdie twee berge lê aan die westekant van die Jordaan in die gebied van die Kanaäniete wat in die Jordaanvallei woon en digby Gilgal se waarsêersboom.

31. Julle staan op die punt om die Jordaan oor te steek en die land in besit te neem wat die Here graag vir julle wil gee.

32. Wanneer julle in die land woon, sorg dat julle volgens hierdie gebooie leef wat ek julle vandag gee.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 11