Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 5:1-10 Die Boodskap (DB)

1. Al die stamme van Israel se leiers het na Dawid in Hebron gekom. Hulle het vir hom gesê: “Ons is eintlik mos maar familie van u.

2. Vroeër toe Saul nog ons koning was, was ú die een wat Israel altyd in die oorlog gelei het. Die Here het ook vir u gesê: Jý moet my volk Israel se herder wees. Jý moet die leier van Israel wees.”

3. So het al die stamhoofde van Israel na die koning in Hebron gekom. Dawid het by die Here se altaar ’n ooreenkoms met hulle gesluit en hulle het hom koning gemaak oor Israel.

4. Dawid was 30 toe hy koning geword het en hy het vir 40 jaar regeer.

5. Oor Juda alleen het hy vir sewe en ’n half jaar in Hebron regeer en oor die hele Israel en Juda saam was hy vir 33 jaar koning in Jerusalem.

6. Die koning het met sy manne na Jerusalem opgetrek om teen die Jebusiete, die mense van daardie gebied, te veg. Die Jebusiete het vir Dawid geskree: “Jy sal nooit in hierdie plek inkom nie! Ag man, die mense wat blind en kruppel is, sal sorg dat jy hier uitbly!” Só seker was hulle dat Dawid nie die plek sal kan inneem nie.

7. En tog het Dawid die veilige plek met die muur om op Sionberg ingeneem. Dis later die Stad van Dawid genoem.

8. Dawid het daardie dag nog gesê: “Iemand wat die Jebusiete wil wen, moet hulle deur die watertonnel bykom.” Dawid het die woorde oor “dié wat kruppel en blind is” verpes. Dis waarom die mense later ’n spreekwoord daarvan gemaak het wat sê: “Iemand of iets wat blind of kruppel is, moet uit die tempel uitbly.”

9. Dawid het in die veilige plek met die muur om gaan woon. Hy het dit die Stad van Dawid genoem. Hy het daar rondom laat bou, van die keerwal af binnetoe.

10. Dawid het sterker en sterker geword, want die magtige Here het hom gehelp.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 5