Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 2:6-22 Die Boodskap (DB)

6. Die Here sal vir julle goed wees en julle onthou. Ek waardeer regtig wat julle gedoen het.

7. Noudat julle koning dood is, moet julle sterk en dapper wees. Ek wil hê julle moet weet die mense van Juda het my koning gemaak oor hulle.”

8. Saul se generaal, Abner, die seun van Ner, het oor die Jordaanrivier na Maganajim toe getrek. Hy het Is-Boset, Saul se seun, saamgevat

9. en hom koning gemaak oor die hele Israel. Is-Boset het met ander woorde regeer oor die streke Gilead, Aser, Jisreël, Efraim en Benjamin.

10. Is-Boset was 40 jaar oud toe hy koning geword het oor Israel en hy het twee jaar regeer. Dawid was net koning oor die mense van Juda

11. en hy het sewe jaar en ses maande in Hebron regeer.

12. Abner, die seun van Ner, het met Is-Boset se manskappe van Maganajim af na Gibeon toe gegaan.

13. Joab, die seun van Seruja, en Dawid se manskappe het ook uitgetrek en hulle by Gibeonsfontein gekry. Die twee groepe het weerskante van die poel water gaan sit.

14. Abner sê toe vir Joab: “Kom ons laat van die jongmanne die ding hier voor ons uitspook.”“Dis goed so,” sê Joab.

15. Hulle laat toe twaalf manne vorentoe kom wat vir die stam van Benjamin en Is-Boset moet veg, en twaalf wat vir Dawid moet veg.

16. Toe hulle mekaar pak, gryp elkeen die ander een aan die hare en hulle steek mekaar gelyk met die swaard in die sy sodat hulle almal saam dood neerslaan. (Dis hoekom hulle die plek daar by Gibeon Klipmesdeel noem.)

17. Daar het toe ’n woeste geveg uitgebreek. Abner en die manne van Israel het die slegste daarvan afgekom teen Dawid se manskappe.

18. Al drie Seruja se seuns, Joab, Abisai en Asael, was in die geveg. Asael was so rats soos ’n ribbok.

19. Toe Abner begin weghardloop, sit Asael hom agterna en bly op sy hakke, maak nie saak watter kant toe Abner draai nie.

20. Abner kyk toe om en skree vir hom: “Is jý die een wat agter my aan is, Asael?”Asael skree terug: “Ja, dis ek!”

21. Abner skree vir hom: “Hou op om my te jaag! Vang een van die jongmanne en vat sý wapens!”Maar Asael wou niks weet van wegdraai nie.

22. Abner skree toe weer vir hom: “Gee pad hier agter my! Ek gaan jou doodmaak! Hoe sal ek dan weer jou broer Joab in die oë kan kyk?”

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 2