Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 2:1-16 Die Boodskap (DB)

1. Daarna het Dawid by die Here raad gevra: “Moet ek in een van die dorpe van Juda gaan bly?”Die Here het “Ja” geantwoord.Dawid vra toe: “In watter dorp moet ek gaan bly?”En die Here antwoord: “In Hebron.”

2. Dawid het toe in Hebron gaan bly saam met sy twee vroue, Aginoam uit Jisreël en Abigajil, die weduwee van Nabal uit Karmel.

3. Die manne wat by Dawid was, het elkeen ook met sy familie daarheen getrek en in die klein dorpies om Hebron gaan bly.

4. Die mense van Juda het na Hebron toe gekom en Dawid daar koning gemaak. Hy was net die koning van Juda.Die mense het vir Dawid kom vertel dat die mans van Jabes in Gilead vir Saul begrawe het.

5. Hy het toe van sy manne na Jabes gestuur met die boodskap: “Die Here sal vir julle goed wees omdat julle so goed was vir Saul, julle koning, en hom begrawe het.

6. Die Here sal vir julle goed wees en julle onthou. Ek waardeer regtig wat julle gedoen het.

7. Noudat julle koning dood is, moet julle sterk en dapper wees. Ek wil hê julle moet weet die mense van Juda het my koning gemaak oor hulle.”

8. Saul se generaal, Abner, die seun van Ner, het oor die Jordaanrivier na Maganajim toe getrek. Hy het Is-Boset, Saul se seun, saamgevat

9. en hom koning gemaak oor die hele Israel. Is-Boset het met ander woorde regeer oor die streke Gilead, Aser, Jisreël, Efraim en Benjamin.

10. Is-Boset was 40 jaar oud toe hy koning geword het oor Israel en hy het twee jaar regeer. Dawid was net koning oor die mense van Juda

11. en hy het sewe jaar en ses maande in Hebron regeer.

12. Abner, die seun van Ner, het met Is-Boset se manskappe van Maganajim af na Gibeon toe gegaan.

13. Joab, die seun van Seruja, en Dawid se manskappe het ook uitgetrek en hulle by Gibeonsfontein gekry. Die twee groepe het weerskante van die poel water gaan sit.

14. Abner sê toe vir Joab: “Kom ons laat van die jongmanne die ding hier voor ons uitspook.”“Dis goed so,” sê Joab.

15. Hulle laat toe twaalf manne vorentoe kom wat vir die stam van Benjamin en Is-Boset moet veg, en twaalf wat vir Dawid moet veg.

16. Toe hulle mekaar pak, gryp elkeen die ander een aan die hare en hulle steek mekaar gelyk met die swaard in die sy sodat hulle almal saam dood neerslaan. (Dis hoekom hulle die plek daar by Gibeon Klipmesdeel noem.)

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 2