Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 18:25-33 Die Boodskap (DB)

25. Hy skree vir die koning daar van bo af wat hy sien.Die koning sê toe: “As hy alleen is, bring hy nuus!”Die man in die pad het al nader gekom.

26. Toe sien die wag nog ’n man wat aangehardloop kom. “Daar kom nog iemand alleen aangehardloop!” skree hy vir die man wat by die deur wagstaan.“Dan bring hy ook nuus,” sê die koning.

27. “Dit lyk vir my so aan sy hardloop die voorste een is Agimaäs, Sadok se seun,” skree die man in die toring.“Hy’s ’n goeie man,” sê die koning, “hy kom met goeie nuus.”

28. Hy was nog ’n ent weg toe skree hy al vir die koning: “Als is reg!” Toe hy met sy gesig teen die grond voor die koning buig, sê hy: “U Majesteit, ons moet die Here, u God, prys, want Hy het die mense wat teen u opgestaan het, op hulle plek gesit.”

29. “Wat van Absalom? Is my kind veilig?” vra die koning.“Ek het ’n groot klomp mense bymekaar gesien net toe u generaal, Joab, vir my gesê het om te hardloop. Maar ek weet nie wat het daar gebeur nie,” sê Agimaäs.

30. “Gaan wag daar,” sê die koning.Hy het eenkant gaan staan.

31. Net toe kom die man uit Afrika daar aan. Hy sê: “U Majesteit, ek het goeie nuus! Die Here het vandag almal reggesien wat teen u opgestaan het.”

32. “Wat van Absalom? Is my kind veilig?” vra die koning.Daarop antwoord die man: “Ek hoop dieselfde sal gebeur met U Majesteit se vyande en met almal wat slegte planne teen u het, as wat met daardie jongman gebeur het.”

33. Die koning was platgeslaan. Hy het na ’n kamer bo-op die stad se muur gegaan en in trane uitgebars. Hy het heen en weer geloop en gesê: “My seun, my Absalom, my seun, my seun, my Absalom. Ag, as ek maar dood was in jou plek, Absalom, my seun, my seun.”

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 18