Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 17:22-29 Die Boodskap (DB)

22. Dawid en al die mense by hom het daardie nag nog deur die Jordaanrivier getrek. Die volgende môre toe dit lig word, was almal deur die rivier.

23. Toe Agitofel sien die mense volg nie sy raad nie, het hy sy donkie opgesaal, sy goedjies gevat en na die dorp toe gery waar hy gebly het. Hy het vir sy huismense ’n paar laaste goed gesê wat hulle moet doen en homself toe opgehang. Hy is dood en hulle het hom in die familiegraf begrawe.

24. Dawid het in Maganajim aangekom net toe Absalom en al die manne van Israel deur die Jordaanrivier trek.

25. Absalom het vir Amasa aangestel as generaal in Joab se plek. (Amasa se pa was ’n man met die naam Jeter, ’n Israeliet wat met Abigal getroud was. Abigal was Nagas se dogter. Sy was weer ’n suster van Seruja, Joab se ma.)

26. Die Israeliete en Absalom het in die Gileadstreek kamp opgeslaan.

27. Toe Dawid daar in Maganajim aankom, het Sobi en Makir en Barsillai na hom toe gekom. (Sobi was Nagas se seun wat van Rabba van die Ammoniete af gekom het; Makir was Ammiël se seun uit Lo-Dabar, en Barsillai was ’n man van Gilead wat van Rogelim af gekom het.)

28. Hulle het vir Dawid en sy mense beddegoed, breekgoed, bakke, koring, gars, meel, gebraaide koring, boontjies en lensies,

29. heuning en dikmelk, bokmelkkaas en beesmelkkaas gebring. Hulle het gesê: “Die mense het seker honger en moeg en dors geraak in die Jordaanvallei.”

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 17