Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 16:12-23 Die Boodskap (DB)

12. Wie weet, dalk sien die Here my moeilikheid raak en gee Hy my later iets goeds vir die gevloek wat ek vandag moet verduur.”

13. Dawid en sy mense het padlangs verder geloop. Simeï het al teen die rant geloop. Hy het nog steeds gevloek en hulle met klippe en kluite gegooi.

14. Die koning en al die mense wat saam met hom was, was stokflou toe hulle in die Jordaanvallei ingaan. Daar het die koning eers ’n bietjie gerus.

15. Absalom en al die mans van Israel het in Jerusalem aangekom. Agitofel was ook by.

16. Toe Gusai, Dawid se vriend, by Absalom kom, sê hy vir hom: “Lank lewe die koning! Lank lewe die koning!”

17. Absalom sê vir hom: “Is dít hoe lank jou vriendskap hou? Hoekom het jy nie saam met jou vriend gegaan nie?”

18. “Nee,” sê Gusai vir Absalom, “ek is vir die man wat deur die Here gekies is en wat deur hierdie mense en al die Israeliete gekies is. By hóm sal ek staan.

19. Buitendien, ek móét mos my vriend se seun dien. Soos ek vir u pa gewerk het, sal ek vir u werk.”

20. Daarna sê Absalom vir Agitofel: “Komaan, gee raad! Wat moet ons nou doen?”

21. Agitofel gee toe vir Absalom hierdie raad: “Slaap by jou pa se haremvroue wat hy hier gelos het om die paleis op te pas. Al die Israeliete moet weet dat jy jou pa in die gesig gevat het, dan sal hulle nog sterker by jou staan.”

22. Hulle het toe vir Absalom ’n seil op die dak van die paleis gespan, en hy het daar voor al die Israeliete by sy pa se haremvroue geslaap.

23. As Agitofel daardie tyd raad gegee het, was dit so goed of jy het ’n antwoord van God self af gekry. Dit is wat Dawid en Absalom van Agitofel se raad gedink het.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 16