Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 15:22-37 Die Boodskap (DB)

22. “Goed,” sê Dawid, “bly dan maar by ons.”Ittai, die man uit Gat, en al sy manskappe met hulle vroue en kinders het toe by Dawid-hulle gebly.

23. Die hele omgewing se mense het hardop gestaan en huil toe al Dawid se manskappe so verbytrek. Die koning is toe self ook saam met sy mense deur Kidronspruit in die rigting van die woestyn.

24. Sadok en al die Leviete was ook in die groep. Hulle het die verbondsark van God by hulle gehad en dit op ’n plek neergesit waar Abjatar offerdiere verbrand het totdat almal wat saam met Dawid gegaan het, uit die stad was.

25. Die koning sê toe vir Sadok: “Vat die ark van God terug stad toe. Miskien sal die Here vir my goed wees en my laat terugkom sodat ek die ark en die plek waar hy staan, weer sal sien.

26. As die Here besluit Hy wil my nie meer hê nie, is dit goed so. Hy kan dan maar met my maak wat Hy wil.”

27. Dawid het ook vir die priester Sadok gesê: “Jy moet sake vir my dophou. Gaan rustig terug stad toe saam met Abjatar en julle twee seuns Agimaäs en Jonatan.

28. Ek sal by die deurgaanplekke in die Jordaanvallei wag totdat julle vir my laat weet wat aangaan.”

29. Sadok en Abjatar het die verbondsark van God teruggevat Jerusalem toe en daar gebly.

30. Dawid het die hele tyd geloop en huil toe hy teen die Olyfberg se rant opgegaan het. Hy was kaalvoet en hy het sy gesig toegehou. Almal wat saam met hom was, het ook kaalvoet geloop en huil en hulle gesigte toegehou.

31. Iemand het vir Dawid vertel dat Agitofel saam met Absalom was in sy geheime plan. Dawid het maar net gesê: “Ag Here, steek tog ’n stokkie voor Agitofel se raad.”

32. Toe Dawid bo-op die Olyfberg kom waar die mense gewoonlik bid, wag Gusai, die Erekiet, daar vir hom. Die man se klere was geskeur en daar was grond op sy kop.

33. Dawid sê vir hom: “As jy saam met my gaan, gaan jy net in my pad wees.

34. Maar as jy teruggaan stad toe, kan jy my help en die planne van Agitofel dwarsboom. Sê vir Absalom jy wil vir hom werk. Sê vir hom jy het voorheen vir my gewerk, maar nou is hy jou baas.

35. Die twee priesters, Sadok en Abjatar, sal ook in Jerusalem wees. Sê vir hulle alles wat jy in die paleis hoor.

36. Hulle twee seuns, Agimaäs en Jonatan, sal ook daar wees en hulle sal vir my alles kom sê wat julle uitvind.”

37. Gusai, Dawid se ou vriend, het teruggegaan. Toe hy in die stad kom, kom Absalom ook daar aan.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 15