Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 15:1-11 Die Boodskap (DB)

1. ’n Ruk later het Absalom vir hom ’n kar en perde gekry en 50 manne wat sy lyfwag was.

2. Hy het elke môre vroeg opgestaan en langs die pad gaan wag waar die mense in die stad inkom. Elkeen wat ’n hofsaak gehad het en wat na die koning toe gekom het vir ’n beslissing het daar verbygegaan. Dan het Absalom die man geroep en vir hom gevra waar hy vandaan kom. As hy sê hy kom uit een van die dorpe van die Israeliete,

3. sê Absalom vir hom: “Jong, al het jy ’n goeie saak, is ek bevrees jy sal nie ’n regverdige verhoor by die koning kry nie.”

4. Hy voeg dan sommer by: “As ék darem die hoogste regter was, sou elkeen wat met sy saak na mý toe gekom het ’n regverdige uitspraak gekry het, hoor!”

5. As enigiemand na hom toe gekom het om voor hom te buig, het Absalom sy hand gevat en hom nader getrek en omhels.

6. Hy het met al die Israeliete wat na die koning toe gekom het vir ’n beslissing, so gemaak. Op dié manier het Absalom die Israeliete se harte gewen.

7. Na vier jaar het Absalom vir die koning gesê: “Ek wil baie graag ’n belofte wat ek vir die Here gemaak het, in Hebron gaan nakom.

8. Toe ek nog in Gesur by die Arameërs was, het ek vir die Here belowe dat, as Hy my regtig na Jerusalem toe terugbring, ek vir Hom in Hebron sal gaan offer.”

9. Die koning het gesê: “Gaan maar, en ek hoop alles gaan goed.”Hy het dadelik Hebron toe gegaan.

10. Intussen het hy in die geheim vir al die stamme in Israel se leiers laat weet: “As julle hoor die mense blaas op ramshorings, moet julle skree: ‘Absalom het koning geword in Hebron!’”

11. Daar het 200 mans saam met Absalom van Jerusalem af na Hebron toe gegaan. Hulle was genooi en het ewe onskuldig saamgegaan, want hulle het niks van die hele affêre geweet nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 15