Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 14:24-31 Die Boodskap (DB)

24. Maar die koning het gesê: “Hy moet reguit na sy huis toe gaan. Ek wil hom nie sien nie.”Absalom is toe reguit na sy huis toe sonder om die koning te sien.

25. Daar was in die hele land nie nog so ’n mooi mens soos Absalom nie. Almal het hom bewonder. Hy was ’n volmaakte man, van kop tot tone.

26. Hy het ’n welige bos hare gehad. Een keer ’n jaar het hy sy hare afgeskeer omdat dit te lank geword het. Die afgeskeerde hare het omtrent twee kilogram geweeg volgens die gewigte van die staat.

27. Absalom het drie seuns en ’n dogter gehad. Sy dogter se naam was Tamar. Sy was ’n beeldskone vrou.

28. Absalom het vir twee jaar in Jerusalem gebly sonder dat hy ooit toegelaat is om by die koning te kom.

29. Hy laat weet toe vir Joab hy wil hom sien. Hy wou hê Joab moes hom na die koning toe vat. Maar Joab wou nie na sy huis toe kom nie. Absalom het weer vir hom ’n boodskap gestuur, maar hy het nie gekom nie.

30. Toe sê Absalom vir sy werkers: “Julle ken mos Joab se stuk land hier langs myne waar hy die gars geplant het. Gaan steek dit aan die brand!”Die werkers het die stuk land aan die brand gesteek.

31. Joab het dadelik na Absalom se huis toe gekom en hom gevra: “Hoekom het jou werkers my land aan die brand gesteek?”

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 14