Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 28:15-22 Die Boodskap (DB)

15. ’n Aantal mans is aangewys om vir die gevangenes te sorg. Uit die buit wat die soldate gevat het, het hulle vir die mense wat kaal was, klere gegee. Hulle het klere en sandale uitgedeel en vir almal kos en iets te drinke aangebied. Hulle het die beseerdes se wonde met olie versorg. Daarna het hulle dié wat te swak was, op donkies laat ry en almal teruggeneem na Jerigo, die Palmstad, en die gevangenes daar aan hulle broers terugbesorg. Daarna het hulle self teruggegaan Samaria toe.

16. Dit was in dié tyd dat Agas die koning van Assirië gevra het om hom te kom help.

17. Die Edomiete het Juda intussen weer aangeval en verslaan. Hulle het baie gevangenes weggevat.

18. Die Filistyne het ’n strooptog uitgevoer op die dorpe in Juda se lae heuwels en in die suide van die land. Hulle het die volgende plekke vir hulleself gevat en daar gaan bly: Bet-Semes, Ajalon, Gederot, Soko en die dorpe in die omgewing daarvan, Timna en die dorpe in die omgewing, Gimso en die dorpe in die omgewing.

19. Al die slegte dinge het met Juda gebeur omdat die Here koning Agas van Juda wou straf. Hy het immers sy mense aangemoedig om sonde te doen en hy self was heeltemal ontrou aan die Here.

20. Toe Tiglat-Pileser, die koning van Assirië, wel daar opdaag, het hy koning Agas glad nie gehelp nie.

21. Agas het al die waardevolle voorwerpe uit die Here se tempel, die paleis en sy amptenare se huise gevat en dit vir die koning van Assirië gestuur. Maar dit het niks gehelp nie.

22. Juis toe hy baie swaargekry het, het koning Agas nóg ongehoorsamer aan die Here geword.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 28