Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 26:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Die mense van Juda het toe Amasia se seun Ussia, wat maar sestien jaar oud was, koning gemaak in sy plek.

2. Hy het Elat herbou en dit weer onder Juda se beheer geplaas.

3. Ussia was sestien toe hy koning geword het. Hy het 52 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Jekolja, van Jerusalem.

4. Die Here was tevrede met wat Ussia gedoen het, net soos met sy pa Amasia.

5. Sagaria het vir Ussia baie van God geleer. So lank as wat Ussia die Here gedien het, het God aan hom sukses gegee.

6. Hy het teen die Filistyne gaan oorlog maak en die mure van die stede Gat, Jabne en Asdod afgebreek. Daarna het hy nuwe dorpe in die omgewing van Asdod en die res van Filistea gebou.

7. God het hom nie net in sy oorloë teen die Filistyne gehelp nie, maar ook toe hy teen die Arabiere van Gur-Baäl en teen die Meüniete geveg het.

8. Selfs die Ammoniete moes aan hom belasting betaal. Hy was later tot in Egipte bekend, want hy was teen hierdie tyd ’n baie magtige koning.

9. Ussia het torings in Jerusalem gebou by die Hoekpoort, die Valleipoort en by die hoek in die muur. Hy het die torings soos forte versterk.

10. Hy het ook forte in die woestyn gebou en baie waterputte uitgekap. Dit was nodig omdat hy groot kuddes vee in die heuwelland van Juda en op die vlaktes gehad het. Hy was lief vir boerdery en het baie mense gehad wat op sy plase en wingerde teen die heuwels en in die vrugbare valleie gewerk het.

11. Ussia se leër was goed georganiseerd en goed opgelei. Hulle was reg om enige tyd oorlog te maak, want hulle is in afdelings ingedeel deur die leërsekretaris, Jeïel, en die stafoffisier Maäseja. Hulle twee het onder die gesag gestaan van Ganaja, ’n amptenaar van die koning.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 26