Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 10:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Rehabeam het na Sigem toe gegaan, waar die hele Israel bymekaar was om hom koning te maak.

2. Toe Jerobeam, Nebat se seun, hoor dat Salomo dood is, het hy van Egipte af na Israel toe teruggekom. Hy was in Egipte omdat hy vir Salomo gevlug het.

3. Die leiers van Israel het Jerobeam laat haal. Hy en die hele Israel het met Rehabeam gaan praat.

4. “Jou pa het ons baie swaar laat kry,” het hulle vir Rehabeam gesê. “As jy die dwangarbeid wat hy ons laat doen en die belastingplig verlig, sal ons lojaal bly en jou as ons koning aanvaar.”

5. Rehabeam antwoord toe: “Kom oor drie dae terug, dan sal ek julle antwoord.” Hulle is toe daar weg.

6. Rehabeam het die saak met die ouer raadgewers, wat ook vir sy pa, Salomo, raad gegee het, gaan bespreek. “Wat dink julle?” het hy gevra. “Hoe moet ek op hulle versoek reageer?”

7. Hulle het gesê: “As jy mooi werk met dié mense en goed is vir hulle, en as jy moeite doen om hulle tegemoet te kom, sal hulle vir altyd jou getroue onderdane bly.”

8. Rehabeam het hulle raad egter verwerp en die saak met die jonger manne wat saam met hom grootgeword het, gaan bespreek.

9. Hy het vir hulle gevra: “Wat dink julle moet ek die mense antwoord wat vir my gevra het om die las wat my pa hulle opgelê het, ligter te maak?”

10. Die jongmanne het gesê: “Jy moet die klomp wat kla só antwoord: ‘My pinkie is dikker as my pa se middellyf! As julle dink hy het julle swaar laat kry, wag maar tot julle sien wat ek kan doen!

11. My pa was kwaai met julle, ek sal nog kwaaier wees; hy het ’n sweep gebruik, ek sal julle met gésels slaan!’”

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 10