Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 2:15-25 Die Boodskap (DB)

15. Die profete van Jerigo wat alles op ’n afstand staan en dophou het, het opgewonde geroep: “Nou is Elisa Elia se waardige opvolger!” Hulle het na hom toe gegaan en voor hom gebuig.

16. Hulle het gesê: “Hier tussen ons is 50 sterk jongmanne tot u beskikking. Spreek net die woord dan sal ons u leier gaan soek! Miskien het die Here se Gees hom opgeraap en êrens op ’n berg of in ’n vallei neergesit.” “Nee, los dit maar,” het Elisa geantwoord, “moet hulle nie stuur nie.”

17. Maar hulle het só aangehou dat hy later ingestem het. Die 50 manne het drie dae lank na Elia gesoek, maar hom nie gekry nie.

18. Elisa was nog in Jerigo toe hulle teruggekom het. Hy vra hulle toe: “Het ek nie gesê julle kan dit maar los nie?”

19. Die mense van Jerigo het vir Elisa gesê: “Ons het ’n probleem. Soos jy kan sien, is ons dorp mooi geleë, maar die water is sleg. Dit veroorsaak onvrugbaarheid by mens en dier.”

20. Elisa sê toe: “Bring vir my ’n splinternuwe skottel vol sout.” Hulle het dit vir hom gaan haal.

21. Hy stap toe na die oog van die fontein en gooi die sout daarin terwyl hy sê: “Die Here sê: ‘Ek het die water nou gesond gemaak. Dit sal nie weer dood of onvrugbaarheid veroorsaak nie.’”

22. En so was dit! Die water is nog altyd gesond, net soos Elisa gesê het dit sou wees.

23. Elisa is weg uit Jerigo, na Bet-El toe. ’n Klomp seuntjies het uit die stad gekom en hom gespot. Hulle het geskree: “Gaan op, Bleskop! Gaan op, Bleskop!”

24. Elisa het na hulle gekyk en hulle in die Here se Naam vervloek. Daar het toe twee bere uit die bos gekom en 42 van die seuntjies verskeur.

25. Elisa is van daar af eers na die Karmelberg toe en daarna Samaria toe.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 2