Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 2:15-20 Die Boodskap (DB)

15. Die profete van Jerigo wat alles op ’n afstand staan en dophou het, het opgewonde geroep: “Nou is Elisa Elia se waardige opvolger!” Hulle het na hom toe gegaan en voor hom gebuig.

16. Hulle het gesê: “Hier tussen ons is 50 sterk jongmanne tot u beskikking. Spreek net die woord dan sal ons u leier gaan soek! Miskien het die Here se Gees hom opgeraap en êrens op ’n berg of in ’n vallei neergesit.” “Nee, los dit maar,” het Elisa geantwoord, “moet hulle nie stuur nie.”

17. Maar hulle het só aangehou dat hy later ingestem het. Die 50 manne het drie dae lank na Elia gesoek, maar hom nie gekry nie.

18. Elisa was nog in Jerigo toe hulle teruggekom het. Hy vra hulle toe: “Het ek nie gesê julle kan dit maar los nie?”

19. Die mense van Jerigo het vir Elisa gesê: “Ons het ’n probleem. Soos jy kan sien, is ons dorp mooi geleë, maar die water is sleg. Dit veroorsaak onvrugbaarheid by mens en dier.”

20. Elisa sê toe: “Bring vir my ’n splinternuwe skottel vol sout.” Hulle het dit vir hom gaan haal.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 2