Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 16:1-13 Die Boodskap (DB)

1. In die sewentiende jaar wat koning Peka in Israel regeer het, het Agas, die seun van Jotam, koning in Juda geword.

2. Agas was twintig toe hy koning geword het en het sestien jaar lank in Jerusalem regeer. Die Here was nie tevrede met wat Agas gedoen het nie, nie soos die geval was met koning Dawid, sy voorvader nie.

3. Hy het dieselfde dinge gedoen as die konings van Israel en selfs verder gegaan. Hy het sy seun as ’n offer laat verbrand en so die afstootlike praktyke gevolg van die volke wat voor die Israeliete in die land gewoon het en wat deur die Here uit die land verdryf is.

4. Hy het by die heidene se heilige plekke op die heuwels en onder elke groen boom diere geoffer en wierook gebrand.

5. In daardie tyd het Resin, die koning van Aram, en Peka, die koning van Israel en seun van Remalja Juda aangeval. Hulle het Jerusalem beleër, maar kon nie die stad inneem nie.

6. Resin het egter Elat vir Aram teruggeneem en die Judeërs daaruit verjaag. Daar het toe Edomiete in die stad gaan bly. Hulle woon vandag nog daar.

7. Koning Agas het boodskappers na Tiglat-Pileser, die koning van Assirië, gestuur en vir hom gesê: “Ek is u dienaar en u onderdaan. Kom help my asseblief om die Arameërs en Israeliete se aanval af te slaan.”

8. Agas het die silwer en goud wat oor was in die Here se tempel en die stoorkamers van die paleis bymekaargemaak en dit as ’n geskenk aan die Assiriese koning gestuur.

9. Tiglat-Pileser het besluit om Agas te help. Hy het die Aramese hoofstad Damaskus aangeval en die inwoners na Kir weggevoer. Hy het ook vir koning Resin doodgemaak.

10. Agas het Damaskus toe gereis om Tiglat-Pileser te gaan ontmoet. In Damaskus het hy ’n altaar gesien wat dadelik sy belangstelling gewek het. Hy het die afmetings en ’n model van die altaar aan die priester Urija gestuur en hom beveel om ’n replika daarvan te maak.

11. Urija het die opdrag sorgvuldig uitgevoer en ’n altaar presies soos die een in Damaskus voltooi nog voordat Agas uit Damaskus terug was.

12. Toe Agas in Jerusalem kom, het hy na die altaar gaan kyk en verskillende offers daarop gebring:

13. hy het ’n dier as offer op die altaar verbrand en ’n offer van graan gebring; hy het drank as offer oor die altaar gegooi en die bloed van ’n vredesoffer daaraan gesmeer.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 16