Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 30:13-27 Die Boodskap (DB)

13. Dawid vra toe vir hom: “Van wie se mense is jy en waar kom jy vandaan?”Die jong man antwoord hom: “Ek is ’n Egiptenaar. Ek is ’n slaaf van een van die Amalekiete. Omdat ek siek geword het, het my baas my drie dae gelede hier gelos.

14. Ons was op ’n strooptog in die Negev waar die Filistyne en Judeërs en die Kalebfamilie bly. Ons het Siklag afgebrand.”

15. “Kan jy my wys waar hierdie spul rowers is?” vra Dawid hom.Hy sê toe: “As u vir my by God sweer dat u my nie sal doodmaak of my vir my baas sal teruggee nie, sal ek u na hulle toe vat.”

16. Hy het vir Dawid gaan wys waar hulle is. Die klomp is toe sowaar besig om fees te vier met die goed wat hulle in die plekke van die Filistyne en die Judeërs gevat het: hulle lê toe sommer die wêreld vol en eet en drink.

17. Dawid het die volgende môre toe dit lig word, teen hulle begin veg en tot die aand aangehou. Behalwe 400 jong manne wat op kamele gespring en weggejaag het, het daar nie een van hulle weggekom nie.

18. Dawid het al die mense wat die Amalekiete gevang het, gered, ook sy eie twee vroue.

19. Nie een enkele mens is vermis nie; al die kinders en al die goed, ja, elke dingetjie wat die Amalekiete gevat het, het Dawid teruggekry.

20. Hy het al die skape en beeste wat by die Amalekiete was, laat aankeer. Die mense het hierdie diere in ’n trop aangejaag voor die ander diere wat by hulle was. Hulle het gesê: “Hierdie is Dawid se goed.”

21. Die 200 man wat by die Besorspruit agtergebly het omdat hulle te gedaan was om saam met Dawid te gaan, het vir hom en die ander mense op die pad gewag. Toe Dawid by hulle kom, het hy vir hulle gevra hoe dit gaan.

22. Onder die manne wat saam met Dawid gegaan het, was daar ’n paar moeilikheidmakers, sommer slegte mense. Hulle sê toe: “Oor hierdie mense nie saam met ons was nie, kry hulle niks van die goed wat ons teruggebring het nie. Elkeen kan net sy vrou en kinders vat, en dan moet hy maak dat hy wegkom!”

23. “A nee a, vriende!” sê Dawid. “Só kan ons darem nie maak met wat die Here vir ons gegee het nie! Hý het ons beskerm en daardie spul rowers wat ons aangeval het, in ons mag gegee.

24. Ek is seker niemand sal met julle saamstem nie. “Óns reël is: die een wat in die oorlog baklei en die een wat by die voorrade bly, moet altyd dieselfde kry. Ons deel daarom gelykop.”

25. Dawid het dit ’n vaste reël gemaak vir die Israeliete, en van toe af tot nou toe maak hulle so.

26. Toe Dawid in Siklag aankom, het hy van die goed wat hulle by die Amalekiete gevat het, vir die leiers van Juda gestuur wat sy vriende was. Hy het vir hulle laat weet: “Hier is vir julle ’n geskenk uit die goed wat by die Here se vyande afgeneem is.”

27. Dit is gestuur na die leiers van Bet-El, Ramot in die Negev, Jattir,

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 30