Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 25:17-25 Die Boodskap (DB)

17. U moet nou asseblief maar kyk wat u kan doen, want Meneer en sy hele familie gaan groot teëspoed kry. En hy is so ’n nare mens dat niemand met hom daaroor kan praat nie.”

18. Abigajil het gou 200 brode, twee groot erdekruike vol wyn, vyf gaar skape, vyf bakke vol gebraaide koring, 100 rosyntjiekoeke en 200 pakkies gedroogde vye op donkies laat laai.

19. Sy het vir haar helpers gesê: “Gaan solank, ek kom agterna.” Maar sy het niks vir haar man gesê nie.

20. Sy het op ’n donkie gery en in ’n kloof afgegaan. Dawid en sy manne was van die ander kant af op pad. Sy het skielik op hulle afgekom.

21. Dawid het juis geloop en dink: “Ek het met ander woorde die vent se goed verniet opgepas in die woestyn. Hy het nie ’n enkele skaap verloor nie, en nou kry ek stank vir dank.

22. God weet, nie een van die mans of seuns by hom sal môre die son sien opkom nie!”

23. Toe Abigajil vir Dawid sien, het sy gou van die donkie afgeklim en by Dawid se voete met haar gesig teen die grond gebuig.

24. Terwyl sy so by Dawid se voete op haar knieë staan, sê sy vir hom: “Dit is alles mý skuld, Meneer! Mag ek asseblief met u praat, en sal u so vriendelik wees om na my te luister?

25. U moet u tog nie steur aan daardie niksnut van ’n Nabal nie. Hy is net soos sy naam sê: ’n dwaas. Ek het regtig nie die jong manne gesien wat u gestuur het nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 25