Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 24:12-23 Die Boodskap (DB)

12. Kyk hier, my vader, hier het ek ’n stuk van u mantel. Ek het dit afgesny sonder om u dood te maak! Dis tog die bewys dat ek nie teen u in opstand is of iets slegs beplan of u te na wil kom nie, al probeer u om my dood te maak.

13. Die Here sal besluit wie van ons twee is reg, en die Here sal dalk op u wraak neem oor my, maar ék sal nooit my hand teen u oplig nie.

14. Daar is mos ’n ou spreekwoord wat sê: Net kwaaddoeners doen kwaad. Daarom sal ek nooit my hand teen u oplig nie.

15. Buitendien, teen wie het die koning van Israel nou eintlik uitgetrek? U is agter ’n dooie hond, agter een ou sandluisie aan!

16. Die Here sal regter wees en die saak tussen ons uitmaak, want Hy sien alles raak. Hy sal my help en wys dat ek nie skuldig is nie.”

17. Toe Dawid klaar gepraat het, sê Saul: “Is dit jý wat daar praat, Dawid, my kind?” Toe bars hy in trane uit en huil hardop.

18. Hy sê vir Dawid: “Jy is ’n beter mens as ek. Jy het aan my goed gedoen en ék wou jou kwaad aandoen.

19. Jy het my vandag laat sien dat jy dit met my goed bedoel, want toe die Here my aan jou oorgegee het, het jy my nie doodgemaak nie.

20. Watter ander mens sal sy vyand in die hande kry en hom dan sonder skade laat wegkom? Die Here sal aan jou goed doen vir wat jy vandag aan my gedoen het.

21. Ek weet nou vir seker dat jy koning gaan word en dat die koningskap van Israel in jou familie gaan bly.

22. Daarom moet jy my voor die Here belowe dat jy nie my nageslag sal uitroei nie en dat jy so sal sorg dat my naam onder my mense voortleef.”

23. Dawid het dit vir Saul belowe. Saul is daarna huis toe, maar Dawid en sy manne het weer opgegaan na die veilige plekke in die berge.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 24