Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 20:20-29 Die Boodskap (DB)

20. Ek sal maak of ek na ’n teiken skiet en drie pyle in die rigting van die rots skiet.

21. Ek sal dan my wapendraer stuur om die pyle te gaan soek. As ek vir die wapendraer sê: ‘Nee man, die pyle lê nader! Bring hulle!’ kan jy maar uitkom, want dan is dit veilig. Dan is daar, so waar as die Here leef, geen gevaar nie.

22. Maar as ek vir die jong man sê: ‘Nee jong, die pyle lê verder!’ moet jy maak dat jy wegkom, want dan is dit die Here wat jou wegstuur.

23. En onthou, solank ons leef, is die Here getuie van die belofte wat ons aan mekaar gemaak het.”

24. Dawid het toe in die veld gaan wegkruip.Op die nuwemaansdag het koning Saul na die feesete toe gegaan.

25. Hy het op sy gewone plek teen die muur gaan sit. Abner het langs hom gesit en Jonatan regoor hom. Dawid se plek was leeg.

26. Saul het daardie dag niks daaroor gesê nie, want hy het gedink: “Daar moes iets met Dawid gebeur het. Hy kon hom seker nie vir die ete gereedmaak nie en nou is hy onrein.”

27. Maar die volgende dag, die tweede nuwemaansdag, was Dawid se plek wéér leeg. Toe vra Saul vir Jonatan: “Hoekom het die seun van Isai nie gister of vandag saam met ons kom eet nie?”

28. Jonatan sê toe: “Dawid het by my toestemming gevra om Betlehem toe te gaan.

29. Hy het gesê: ‘Verskoon my, asseblief; ons familie in Betlehem het ’n familieoffer, en my oudste broer het gesê ek moet kom. As dit vir jou reg is, sal ek graag wil gaan en my familie gaan sien.’ Daarom het hy nie na die koning se ete gekom nie.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 20